Sosiale media het die afgelope tyd gegons oor twee verskillende voorvalle wat inwoners behoorlik laat regop sit het.

In die eerste voorval het kinders Sondag 9 Mei die lyk van ’n pasgebore baba in ’n plastieksak gevind.

Kapt. Lisa Munro, ’n woordvoerder van die Atlantis-polisie, het die kinders tussen 9 en 11 in Espiegelstraat, Saxonsea, winkeltjie-winkeltjie gespeel toe twee jong vroue uit Sherwood Park se rigting met ’n sak aangestap kom. Die vroue het glo eers rondgekyk, die sak neergesit en toe aangeloop.

Volgens Munro het een van die kinders se nuuskierigheid die oorhand gekry en hy het gaan kyk wat in die sakkie is. Die seuntjie het glo die sakkie oopgeskeur en gesien dit is ’n baba. Hy het die sak gelos en na sy huis gehardloop om sy familie te vertel.

Dié wrede voorval het baie inwoners laat gal braak en die polisie gevra om seker te maak die skuldiges word opgespoor en boet vir hul dade. Volgens Munro is geen verdagtes nog aangekeer nie, maar die polisie volg alle leidrade op. Munro het bevestig ’n klagte van verberging van geboorte word ondersoek, wat dalk later kan verander. Enigeen met meer inligting wat in die ondersoek kan help, word versoek om die Atlantis-polisie by 021 571 8500 te skakel.

Die tweede voorval het woede ontlok toe ’n video waar ’n man deur drie jongens doodgeslaan word, wyd versprei is. Wat egter hartseer vir die familie van Peter Markus (45) is, is die feit dat niemand hom probeer help of die jongens gekeer het toe hulle Markus soos ’n trop wildehonde aangeval het nie.

Gerhard Jooste, wat kort voor die voorval saam Markus was, sê die insident het net ná 17:00 op die hoek van Ghikastraat en Hoopsingel plaasgevind. Volgens Jooste het Markus ’n struweling probeer keer.

Jooste sê Markus het saam sy aanvallers gestap nadat alles “afgekoel het”, maar hulle het hom toe met messe aangeval.

Hy is op die toneel dood.

Volgens Munro het drie mans hulle aan die polisie oorgegee. ’n Klag van moord word ondersoek.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article