Twee mans van Atlantis is in die vroeë oggendure van Vrydag 4 Junie by hul woning in hegtenis geneem vir klagtes wat verband hou met die onsedelike aanranding, verkragting en gereedmaking van minderjariges vir seksuele mishandeling.

Die klagte volg nadat die pa (56) en seun (23) na bewering twee susters oor ‘n aantal jare seksueel misbruik het. Die slagoffers wat nou onderskeidelik 16 en 19 jaar oud is, word glo reeds vanaf sewejarige en 10-jarige ouderdom onderskeidelik, deur die verdagtes misbruik.

Volgens ’n ingeligte bron het die inligting op die lappe gekom nadat een van die slagoffers glo probeer het om haarself om die lewe te bring.

Atlantis-polisiewoordvoerder, kapt. Lisa Munro, het die klagtes teen die twee mans bevestig en gesê die twee is Vrydagoggend deur die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele oortredings (FCS) aangekeer.

Sy het ook bevestig dat daar op verskeie elektroniese toestelle beslag gelê is in die mans se woning. Dit wil voorkom asof die slagoffers daagliks in hul privaatheid deur sekerheidskameras gemonitor is.

Die twee mans sal Maandag 7 Junie in die plaaslike hof verskyn.

*(copy editing – JVDM)

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article