Die Survivors Haven-stigting het jeugdiges in Kinderbeskermingsweek in Mamre met etes en geskenkpakkies onthaal. Die pakkies is deur Weskus Nuus en Atlantis Booksellers geborg. Foto’s: Murphy Roberts


Kinders moet dag in en dag uit beskerm word, het Janine Passenz van die Survivors Haven-stigting, wat slagoffers van seksuele misdrywe en gesinsgeweld ondersteun, onlangs by ’n geselligheid ter viering van kinderbeskermingsweek gesê.

Die groep het meisies en seuns Saterdag 5 Mei met heerlike etes en geskenkpakkies onthaal en verskeie sprekers het die jeugdiges toegespreek.

Volgens Camelita Storkey van die Mamre-buurtwag en die Mamre-traumakamer (wat by alle polisiekantore beskikbaar is) probeer hulle baie hard om jongmense uit die strate en liewer veilig te hou.

Elke kind het die reg om beskerm te word, het Storkey beklemtoon.

Volgens AO Richard van Rooy, sektorleier vir die Mamre-omgewing, is die jongspan aangemoedig om hul regte te leer ken. “Daar is baie mans wat graag veral jongmeisies vir die ‘grootmenswêreld’ voorberei.”

Primêre opvoeding begin by die huis, het Carmen Williams van Hermes Primêr gesê. “Wat by die huis geleer word, word na die skool gebring,” het sy aan die jongspan gesê.

Sy het bygevoeg heeltemal te veel kinders verlaat skool vroeg en “die Sassa-lyn raak net langer”.

Abdul Tajoodien, voorsitter van die Atlantis-GPF, het die jongspan aangemoedig om sterk te staan sodat “niemand julle na die verkeerde plekke neem nie”.

Kindermishandeling moet wortel en tak uitgeroei word, het Tajoodien afgesluit.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article