Suid-Afrika is weer op vlak 4 van die Covid-19 nasionale inperking met vlak 5 wat inwoners met groot oë bekyk as dinge nie vinnig gaan verander nie.
President Cyril Ramaphosa het Sondag (27 Junie) aangekondig dat die verspreiding van die virus buite beheer word met stygende gevalle daagliks.
Met die verbod op alkohol vrees ekonome die ergste, veral omdat die staat nie meer geld het om mense en sakeondernemings te steun nie.
Rosemary Anderson, voorsitter van Fedhasa, wat hotelle, restaurante en toerismeondernemings verteenwoordig, het voor Ramaphosa se jongste aankondiging al gewaarsku strenger perke kan die doodsklok vir enige herstel in die toerismebedryf wees.
Vlak 4 beteken ook dat geen sosiale byeenkomste gehou kan word nie en kerke sluit ook. Restaurante mag slegs wegneemetes bedien terwyl parke en strande oop bly, maar sonder byeenkomste. Inwoners moet saans 21:00 in die huis wees en mag eers weer van 04:00 af op straat wees.
Fabrieke, winkels, plase, myne en ander ondernemings bly oop, maar as jy van die huis kan werk, is dit beter.
Al het die derde vlaag Covid-19 die land soos ’n tornado getref, is die Wes-Kaap gereed daarvoor meen Alan Winde, die Wes-Kaapse premier, wat sê die gesondheidstelsel is slaggereed.
“Ek wil inwoners verseker ons het hulpbronne beskikbaar gestel vir die gevalle wat meer word.”
Winde sê hulle het die inentingsprogram opgegradeer om die volgende paar weke meer mense in te ent. “As ons meer entstof ontvang, kan ons meer mense inent.”
Winde sê genoeg beddens is in hospitale oop, al word mense in hospitale opgeneem.


