Suid-Afrikaners sal vir eers nog op vlak 4 van die inperking bly omdat infeksies steeds hoog bly.
President Cyril Ramaphosa het dié aankondiging Sondag (11 Julie) gedoen.
Met dié woorde het die president die vlak 4-inperking en meegaande regulasies verleng.
Ramaphosa het Suid-Afrika se inwoners Sondagaand toegespreek nadat die nasionale koronavirus-bevelraad (NCCC) vergader het. Hoewel meer as die helfte nuwe gevalle tans in Gauteng voorkom, toon ander provinsies, soos die Wes-Kaap, ook ’n styging, het hy gesê. “As gevolg hiervan het die NCCC besluit om die huidige aangepaste vlak 4 vir nog twee weke te behou.”
Ramaphosa het bygevoeg die verkoop van alkohol is steeds verbode.
“Alkoholmisbruik hou ook met byeenkomste verband,” het die president gesê en herhaal baie ongevalle by hospitale is weens alkoholmisbruik.
Hy sê egter restaurante sal toegelaat word om weer klante by tafels te laat aansit. Dit sal egter onder streng Covid-19-regulasies gedoen word. Die eetplekke mag nie meer as 50 mense toelaat nie.
Kleiner eetplekke mag nie meer as 50% vol wees nie.
Ramaphosa se aankondiging beteken die sluiting van skole word nou ook verleng. Die skole sal nou eers op 26 Julie hervat.
Die aandklokreël tussen 21:00 en 04:00 bly van krag en alle byeenkomste –godsdienstig, politiek en sosiaal – bly verbode.
Ramaphosa het inwoners weer aangemoedig om ingeënt te word.
“Ons moet die boodskap versprei dat die entstof werk en doeltreffend is.”
Volgens die president het sowat 4,2 miljoen Suid-Afrikaners tot dusver minstens een dosis van ’n entstof gekry.



