Wie is Moosa Raise? Ek is getroud en het twee volwasse kinders en ons woon die afgelope 21 jaar in Durbanville. Ek is behep met gehaltetyd saam met my familie en vriende, maar geniet ook die buitelewe, fotografie en alle sportsoorte. Ek is ’n oudonderwyser en het 10 jaar in Kraaifontein klas gegee. Daarna het ek by Ou Mutual in Pinelands gaan werk vir 26 lekker jare waar ek verskeie bestuursposte beklee het. Ek is ook die ontvanger van verskeie pryse, waaronder die voorsittersprys vir die beste “Staff Volunteerism” in 2015 by Ou Mutual.
Hoekom het u ’n raadslid geword?Ek was vir jare net ’n gewone burger wat die belange van my gemeenskap altyd eerste plaas. My skuif in 2018 om raadslid te word, was vir my ’n natuurlike verlenging van wat ek altyd gedoen het – om my gemeenskap met passie en respek te dien, bring soveel vreugde.
Wat behels u werk?
My PR plasing in wyk 32 is om raadslid Barbara Rass in die wyk by te staan, en politieke pligte. My primêre plig is om polities aktiwiteite in wyk 32 te dryf, maar ook om op dienslewering te fokus om die lewe van ons Atlantis-inwoners positief te beïnvloed. Ek is ’n aktiewe lid van subraad-1 en is absoluut verbind tot dienslewering aan elke inwoner in wyk 32.
Waar is u voor die skuif na Atlantis ontplooi?
Ek het my politieke loopbaan in Durbanville begin en Atlantis is die derde gebied in die Metro wat ek bedien. Ek was ook voorheen in Elsiesrivier, Parow en Goodwood.
Kan u ’n verskil maak met dienslewering?
Gehaltedienslewering is my passie. Ek wil graag hê elke inwoner, oud en jonk, moet die visie van Stad Kaapstad as “omgeestad” ervaar. Ons is almal en gesamentlik verantwoordelik dat ons bydra om ’n beter toekoms te verseker waaroor ons almal trots kan wees. Laat ons mekaar respekteer – respekteer ons omgewing en werk saam om ’n verantwoordelike samelewing te skep. Onwettige rommelstorting vereis ’n nuwe benadering. Meld enige onwettige storting op die onderskeie WhatsApp-groepe of by u raadslid aan. Dit is almal se verantwoordelikheid… nie net stadsamptenare of u raadslid nie.
Hoe is u betrokke in u gemeenskap? Ek het die Durbanville GPF in vele rolle gedien. Ek is voorsitter van Scottsdene Hoërskool Alumni in Kraaifontein. Ek dien op verskeie ander gemeenskapstrukture in Durbanville. Ek dien ook in verskeie rolle en portefeuljes in die stad en binne die DA.
Wat anders bring u na Atlantis? Ek is absoluut daartoe verbind om dieselfde visie, energie en passie hier in Atlantis te bring om elke inwoner te baat en dat Atlantis sy regmatige plek in die Metro inneem.
Hoe kan inwoners se veiligheid verbeter word? Die onlangse moorde en aanhoudende onveiligheid in Atlantis is nie waarvoor hierdie mooi gemeenskap bekend moet staan nie. Gemeenskapsveiligheid is ons gesamentlike verantwoordelikheid, nie net dié van die polisie nie. Kom ons werk saam om vrede en veiligheid hier te herstel en om ’n wêreld te skep waar almal se welstand en lewe eerste kom en nie geminag word nie. Ons kinders verdien baie beter. Hulle is ons toekomstige leiers. Kom ons gee meer om vir mekaar. Let me be my brother’s keeper. Wees deel van die oplossing, nie die probleem nie.
Hoe kan u help om ekonomiese geleenthede en werkskepping te verseker?Atlantis is bevoorreg om ’n nywerheidsgebied, insluitende die ASEZ, hier te hê. Ek is terdeë bewus van die sosio-ekonomiese omstandighede hier in Atlantis en gaan my beywer om die voordeel van die geleenthede na alle inwoners te fasiliteer vanuit my oorsig rol as raadslid. Atlantis-inwoners moet voordeel trek uit die ekonomiese geleenthede in die omgewing. Ek vra dat die inwoners met ander oë na hierdie geleenthede kyk, hul vaardighede verbeter en deel word van die geleenthede. Atlantis bied ook vele entrepreneursgeleenthede. Ons huidige situasie hier vereis dat ons met ander oë en ’n nuwe gemoed na hierdie geleenthede kyk. Ek vra aan almal: kom ons werk saam en word aktiewe deelnemers.
Hoe kan inwoners u bereik? Enigiemand kan my oor enige diensleweringsprobleem op WhatsApp of telefonies by 081 731 9659 of per e-pos by moosa.raise@capetown.gov.za kontak.





