Terwyl ander plaaslike raadslede net ’n noodknoppie kry as hul lewe bedreig word, het die Stad besluit Nora Grose verdien ’n lyfwag.
Raadslid Grose, die subraad 1-voorsitter, se hofverskyning op 25 Junie het die wenkbroue laat lig toe sy deur ’n konvooi minibustaxi’s en ’n polisievangwa na die Atlantis-hof begelei is.
Benewens die konvooi was dit die sogenaamde “lyfwag” wat opposisielede laat gal braak het. Grose verskyn tans in die hof in verband met aanklagte van bedrog en geldwassery
Volgens Felicity Purchase, speaker van die Kaapse stadsraad, het Grose in Mei dreigemente ontvang en is dit by die polisie en die Stad se beskermingseenheid aangemeld. Purchase het bevestig die Stad betaal dus vir ’n lyfwag vir Grose.
Nou bedank Grose egter dié groep vir hul ondersteuning tydens haar hofsaak aangesien sy in een van die vereniging se taxi’s na die hof geneem is.
Volgens Mario Hansen, waarnemende voorsitter van die BPTA, het een van die lede Grose ondersteun – nie die organisasie nie.
Volgens Fiona Abrahams, ’n ANC- proporsionele raadslid, weet sy van plaaslike raadslede wat doodsdreigemente gekry. Sy sê die raadslede het noodknoppies ontvang, maar nie lyfwagte nie. Abrahams sê sy wag steeds op Purchase om te verklaar hoeveel Grose se regskostes tot dusver beloop.
Die Openbare Beskermer kan eersdaags ’n ondersoek van stapel stuur, ingedien deur Good, dat Grose nie geregtig is op regshulp en persoonlike beskerming van die Stad nie.
Oupa Segalwe, woordvoerder van die Openbare Beskermer, het bevestig Brett Herron van Good het sy kantoor genader om die aangeleentheid te ondersoek. Grose verskyn Vrydag 30 Julie weer in die hof.





