Personeel van Happy Froggies-kleuterskool in Saxonwoldweg is moedeloos en sit met hul hande in die hare nadat skurke weer ingebreek en byna al die skool se toerusting gesteel het.
Volgens Wilma September, die hoof, is dit reeds die vyfde keer dat skurke hier inbreek.
Die skool, wat daagliks na meer as 60 kinders omsien, moet nou eers kos op ’n buitevuur kook aangesien die inbrekers selfs die skool se gasstoof gegaps het. September sê hulle kook nou eers in geleende potte, “want ons potte is ook gesteel”.
“Personeel het Dinsdag 13 Julie, toe die kleinspan se ontbyt voorberei moes word, ontdek iemand het ingebreek. Die kwaaddoeners het die wendyhuis wat as kombuis dien, oopgebreek en het ook die hele week se kos gevat,” vertel September verslae.
Wat haar egter erger ontstel is die feit dat die kleuterskool ’n diens aan die reeds sukkelende gemeenskap lewer.
“Ons moet nou rondbedel en personeel en ouers het ingespring sodat die kleinspan deur die dag kan eet.”
Volgens Moosa Raise, die proporsionele raadslid vir die gebied, is die skurke ongevoelig om weerlose kindertjies te benadeel. Raise sê hy wil meer met die kleuterskool skakel om te kyk na oplossings vir die vele uitdagings wat die skool het.




