Die stel van gesonde grense beteken eerstens dat jy op jouself begin fokus.
Dit kan vreemd voel aangesien jy moontlik gewoond geraak het om op die mens met die verslawing te fokus. Begin die proses wanneer jy kalm voel en in ’n stil omgewing is voor ’n krisissituasie plaasvind.
Dink rustig na oor watter grense jy wil opstel en lys dit volgens prioriteit.
’n Dinkskrum oor wat jou waardes is, kan help om jou grense te identifiseer. Watter karaktereienskappe is vir jou belangrik? Watter soort gedrag maak jou ongelukkig? Watter soort selfsorg het jy nodig om jou dag ten volle te benut?
Jou grense het verder ’n nagevolg nodig, byvoorbeeld, by die huis is die grens dalk dat almal teen 22:00 tuis moet wees. As jy nie 22:00 tuis is nie, moet jy buite slaap of teruggaan na waar jy vandaan kom.
Grense moet egter ouderdom gepas en realisties wees.
Nagevolge is baie belangrik, want ’n grens sonder ’n nagevolg dra geen waarde nie en is ’n leë dreigement. ’n Grens is anders as ’n dreigement, want ’n dreigement het gewoonlik geen nagevolge nie en word gestel uit ’n plek van woede en vrees.
Sodra jy ’n lys van jou grense opgestel het en mooi nagedink het oor die nagevolge, is dit tyd om dit te kommunikeer. Praat met die mense vir wie jy die grense opstel en maak seker hulle verstaan die grense asook die nagevolge. Dit is nie nodig om jou grense te debatteer nie, maar jy kan verduidelik hoekom die grens vir jou belangrik is. Staan standvastig agter jou grense nadat jy dit gekommunikeer het en pas dit konstant toe.
As jy wel sou ingee en jou grens verbreek, sal jou grense waarde verloor en jy gaan nie meer ernstig opgeneem word nie. Dit is só dat mense kwaad gaan word en selfs druk op jou gaan plaas om jou grense te verbreek, maar moenie toelaat dat hulle jou manipuleer nie.
Gesonde grense behels dus harde werk en inspanning, maar die uiteinde is dat jy ’n bemagtigende ondersteuner kan word.. Vir meer inligting oor verslawing, kontak Cape Town Drug Counselling Centre op 021 571 7180 of kom besoek die kantore in die Wesfleur-sirkel.

