Die klagtes teen Nora Grose is belaglik, het Dan Plato, die Kaapse burgemeester, Donderdag (19 Augustus) in ’n raadsvergadering aan raadslede gesê.
Plato en Felicity Purchaes, die speaker, het glo met die spesiale polisie-eenheid die Valke vergader waar Plato glo gevra het vir die bewyse dat Grose, die Subraad 1-voorsitter, enigiets verkeerd gedoen het.
“Ons vee nie bedrog en korrupsie onder die mat nie,” het hy aan die raad gesê. “Enige raadslid wat hom of haar skuldig maak [aan bedrog of korrupsie], sal afgedank word,” het Plato gemaan.
Grose kom tans in die Bellville-handelshof weens vermeende bedrog en geldwassery voor en het weer gister (30 Augustus) in die hof verskyn.
Plato het volhard dat die aanklagte teen Grose “belaglik” is aangesien die Stad se ondersoek bevind het geen bedrog is gepleeg nie en Grose het ook “niks verkeerd gedoen nie”.
“Die Stad gaan gewis nie stilsit nie – ons gaan optree teen die mense wat die belaglike klagtes teen Grose gemaak het,” het Plato aan die raadslede verduidelik.
“Die raadslid het genoeg gely en die belaglikheid moet nou ophou,” meen Plato.
Die aantygings spruit uit Covid-19-verligtingsgeld – net minder as R172 000 – wat verlede jaar in opdrag van Grose aan Life Changers oorbetaal is nadat dié organisasie nie aan die Stad se vereistes voldoen het.
Sarco, ’n plaaslike organisasie, is vermoedelik gebruik om die geld te bekom. Die drama het ontvou toe Sarco vir ’n afsonderlike geval ondersoek is.
Die organisasie is daarvan verdink dat hy spookwerkers geregistreer om TERS-geld by die staat te eis.
Die Valke het in hierdie ondersoek teen Sarco op die omstrede transaksie tussen die organisasie en die kerk afgekom.
Konrad Brettschneider van Life Changers-kerk het in ’n e-pos aan Subraad 1 op 29 September 2020 gesê die kerk het geen kospakkies vir Wyk 23 versprei nie en die kerk sal weens die feit dat kerke weer oopgestel is, “nie kan voortgaan met die projek nie en het die bestuur van die projek aan Grose teruggegee”.
Weskus Nuus probeer reeds byna ’n jaar bevestiging kry of ’n sluitingsverslag wel ingedien is soos ooreengekom tussen die Stad en Sarco, maar sonder sukses. Volgens Emma Powell, politieke hoof vir die gebied, kan sy nie erken of ontken of Grose se naam by die Onafhanklike Verkiesingskommissie geregistreer is as ’n kandidaat vir die komende plaaslike regeringsverkiesing in Oktober nie.





