Faldie Dreyer het pas sy tweede titel in liggaamsbou beklink toe hy die Westelike Provinsie-IFBB se meesters-titel in Parow gewen het.
Dreyer het sy eerste titel op 8 Mei by die David-K14-Classic-liggaamsboukompetisie in die o.75-kg- en o.80-kg-afdeling gewen, nadat hy sedert 2018 sukkel om sy spiere te wys en het Saterdag 21 Augustus sy tweede titel ingepalm.
Hy sê die ongeluksvoël het byna weer sy kanse verongeluk toe hy ’n maand voor die kompetisie Covid-19 opgedoen het.
“Ek kon twee weke niks doen nie, maar het vasberade gebly om net harder te oefen as ek weer op die been is,” vertel dié spiertier wat met die oorwinning vir die SA kampioenskap op 23 Oktober in Randburg gekwalifiseer het en ook ’n kans om nasionale kleure te werf.
Dreyer het hom soos altyd opgetel en die twee weke voor die kompetisie baie hard geoefen om sy spiere weer vir die kompetisie gereed te kry en was nie teleurgestel nie.
Dreyer het in 2018 besluit om mededingend te oefen om deel te neem, maar het kort voor sy eerste kompetisie ’n beroerte gehad. Net toe hy in 2019 dink hy is gereed om weer sy spiere te begin wys, het ’n ou nekbesering hom gekniehalter.
“Ek het myself belowe om nóg harder te werk om my spiere te bou en dat 2020 my groot jaar gaan wees. Met alles gereed het Covid-19 egter getref en namens my besluit ek is nog nie gereed nie, maar selfs dit het my steeds nie ondergekry nie,” vertel Dreyer.”
“Hierdie jaar het dinge egter begin gebeur en vir nou fokus ek op die SA kompetisie,” vertel Atlantis se nuwe liggaamsboukampioen.


