Met die grootste ondersteuning in die laaste plaaslike verkiesing sal die regerende DA-party alles moet uithaal indien hy weer in Atlantis wil koning kraai.
’n Opwindende tyd wag in Atlantis met die komende munisipale verkiesing op 1 November aangesien 14 kandidate reeds bevestig is om sake vir leierskap in die twee plaaslike wyke uit te spook.
Met nuwe politieke partye wat ook tot die stryd toetree, is daar vyf partye wat meen hulle verteenwoordig die “bruin stem” en sal kiesers in die twee plaaslike wyke ’n wyer opsie bied.
Die Cape Coloured Congress (CCC), Patriotic Alliance (PA) en die voormalige Kaapstad-burgemeester Patricia de Lille se Good-party het hul stem in die registrasienaweek op 18 en 19 September behoorlik laat hoor.
Daar is egter baie vrae waarom die groep nie ’n alliansie vorm nie.
Die CCC maak tans daarop aanspraak dat hy beter as die ander partye vaar en moet die twee groter partye die DA en die ANC gewis oor die skouer laat loer.
Volgens Allister Lightburn van die DA het dié party gewis nie slapelose nagte oor ander partye nie en doen hulle “wat van hulle verwag word”.
Fiona Abrahams, proporsionele raadslid, sê op haar beurt haar grootste kommer is dat amptenare nou gaan “go slow” omdat hulle wil sien wie die nuwe raadslede sal wees, en sy meen dienslewering sal gewis daaronder ly.
“Ek het gewis nie slapelose nagte oor ander partye nie, want dit is goed vir demokrasie [om so baie partye te hê wat meeding] aangesien plaaslike verkiesings voorheen nie baie keuses gebied het nie,” sê Abrahams.
Fadiel Adams, leier van die CCC en ’n burgemeesterskandidaat, het in ’n televisieonderhoud gesê die CCC het 40% van nuwe kiesers geregistreer en sien uit na die komende verkiesing om “mense wat die afgelope 29 jaar aan die agterspeen gedrink het, te verteenwoordig”.
Ondersteuners van die verskillende partye is reeds besig om mekaar op sosiale media uit te tart om stemme te werf. Met partye wat die regerende DA se swak dienslewering tans uitbuit, gaan die vonke in die aanloop tot die verkiesing gewis nog spat.





