“Sy was almal se darling en het nooit nee gesê as iemand ’n guns gevra het nie.”
Só vertel die bure en vriende van Lameez Dillman (21), van Sherwoodpark, wie se halfnaakte liggaam Donderdagoggend (23 September) ongeveer 06:30 in lang, digte gras op ’n oop stuk veld net ’n hanetree van haar ouerhuis deur haar pa ontdek is.
Sy is die vorige dag as vermis aangemeld nadat sy net verdwyn het.
Volgens David Dillman, haar pa, het hy op pad werk toe besluit om nog vir oulaas deur die digte gras te stap en net weer seker te maak hulle het nie die vorige aand iets gemis nie.
“Ek het ’n groot gat gesien wat nie die vorige dag daar was nie en voete sien uitsteek. Ek het versigtig nadergestap en my oudste dogter daar sien lê.”
Lameez se niggies Nazeema Veldsman en Fayrooz Botkin het ook bevestig dat die gat nie daar was toe hulle die vorige dag in die veld gesoek het nie. Die niggies meen dit is duidelik Lameez is tot daar gesleep en die skurke wou haar begrawe.
Volgens Ester Adams, wat langs die oorledene woon, het sy die dag van haar verdwyning nog met haar buurvrou gesels.
Adams sê Lameez sou “gou gaan skoonmaak” en sou dan vir kom help met die wasgoed, maar Lameez het nooit teruggekom nie.
’n Omstander het aan Weskus Nuus gesê “sy was eenvoudig ’n spontane mens wat gewis nie verdien het om só te sterf nie; almal in die straat was erg oor haar”.
Volgens kapt. Lisa Munro, ’n polisiewoordvoerder, is dit in hierdie stadium onbekend wat die oorsaak van Dillman se dood is omdat sy geen sigbare wonde het nie.
Gerugte dat Dillman moontlik verkrag is kon nog nie deur die polisie bevestig word nie.
Die Atlantis-polisie het Donderdag ’n man wat laaste saam met haar gesien is, ingeneem vir ondervraging.
Die man het Maandag (27 September) in die plaaslike landdroshof verskyn en is vrygelaat tot wanneer ’n forensiese uitslag bekend gemaak word.





