Faldie Dreyer (44) het verlede Saterdag (2 Oktober) die bronsmedalje by die Suid-Afrikaanse liggaamsboukampioenskap in Randburg verower. Foto: Verskaf


Faldie Dreyer (44) het Saterdag (2 Oktober) sy beste voet tydens die Suid-Afrikaanse liggaamsboukampioenskap in Randburg voorgesit en derde in sy afdeling geëindig.

Met sy een oog nou op ’n plek in die Suid-Afrikaanse span, wat volgende jaar in Spanje gaan meeding, begin dinge nou vir die plaaslike spiertier uitwerk, vertel hy opgewonde.

Dreyer het sy eerste titel op 8 Mei vanjaar gewen (David K14 Classic-liggaamsboukompetisie o.75 kg en o.80 kg) nadat hy sedert 2018 werk om sy spiere te wys. Dreyer sê die ongeluksvoël het hierdie keer weggebly en hy kon net op die SA kampioenskap fokus. Hy het Saterdag (9 Oktober) reeds sy een voet op die vliegtuig Spanje toe gesit toe hy die Wes-Kaapse Arnold Classic in Parow gewen het.

Die oorwinning het Dreyer in ’n gunstige posisie geplaas om lid van die SA-span te word.

Die Suid-Afrikaanse Arnold Classic-toernooi word op 20 en 21 November in Randburg beslis en ’n oorwinning daar sal Dreyer se kaartjie na die Wêreld- Arnold Classic-toernooi in Spanje verseker, vertel hy opgewonde.

“Ek is steeds baie versigtig,” vertel Dreyer nadat hy drie jaar gestruikel het. In 2018 het hy besluit om mededingend te oefen en deel te neem, maar het egter kort voor sy eerste kompetisie ’n beroerte gehad. Dreyer sê net toe hy in 2019 dink hy is gereed om weer sy spiere te begin wys, het ’n ou nekbesering hom gekniehalter.

“Ek het myself belowe om nóg harder te werk om my spiere te bou en dat 2020 my groot jaar gaan wees. Met alles gereed het Covid-19 egter getref en namens my besluit ek is nog nie gereed nie, maar selfs dit het my nie ondergekry nie. Hierdie jaar gebeur dinge egter en vir nou fokus ek om my vliegkaartjie te bespreek,” vertel hy.

Volgens Dreyer is die sport baie veeleisend en moet hy byna al die onkostes uit sy eie sak dek.

Dié gewese rugbyspeler vertel opgewonde hy is dankbaar vir die eienaars van die Caltex-vulstasie en lede van Fitnation wat hom tydens die kampioenskap finansieel ondersteun het.

Dreyer sê sonder familie en vriende se ondersteuning – veral sy vrou wat toesien dat hy die regte kos eet – sou dit baie moeilik gewees het.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article