Dit blyk die Covid-19-viruspandemie en gepaardgaande omstandighede het gewis ’n negatiewe uitwerking op kinders en volwassenes wat aan aandagafleibaarheid-hiperaktiwiteitsindroom (AAHS oftewel ADHD) ly.

Die jaarlikse bewustheidsdag vir aandagafleibaarheid-hiperaktiwiteitsindroom is verlede maand (14 September) gehou.

Dr. Susan Annandale, ’n pediater van Vredenburg en kenner op die gebied van AAHS, het onlangs aan Weslander gesê sy neem die slegte impak op haar jong AAHS-pasiënte weens pandemie-omstandighede duidelik waar.

Daleen du Plessis, ’n sielkundige berader wat in Piketberg, Dwarskersbos en Vredenburg praktiseer, het in ’n vorige onderhoud aan Weslander gesê die pandemie kan langdurige, negatiewe en emosionele gevolge vir kinders inhou – ’n gevoel van verlies aan die lewe en die wêreld soos ons dit geken het.

Maar dit raak nou ook meer duidelik dat die virussiekte en onseker omstandighede weens die pandemie nie net emosionele trauma veroorsaak nie, maar ook verreikende kognitiewe gevolge kan inhou.

Hoewel kenners wêreldwyd onseker is of die huidige pandemie-omstandighede later tot ’n toename in AAHS en outisme kan lei, lyk dit wel asof kinders en volwassenes wat reeds die sindroom het, se AAHS-simptome in hierdie tyd vererger het.

“My AAHS-pasiënte kry swaarder as gewoonlik,” het Annandale gesê.

Annandale, wat self AAHS het, was amper 50 toe sy die eerste keer Ritalin begin gebruik het. Sy sê sy moes twee keer so hard soos ander werk om ’n dokter te word en later te spesialiseer. Sy neem steeds medikasie as sy weet sy moet vir lang ure studeer of as sy ’n konferensie bywoon en lank gefokus moet bly.

Sy sê ’n groot wanopvatting bestaan oor medikasie vir AAHS. “Ouers kom na my praktyk en die eerste ding wat uit hul monde kom, is dat hulle nie hul kind op medikasie wil sit nie.”

Sy sê egter die medisyne help die kind om “terug te keer na die werklikheid”, en “verander hulle nie in zombies nie”.

Volgens Annandale ontgroei ’n mens nooit AAHS nie, maar ’n mens leer om beter daarmee saam te leef.

Russell A. Barkley, ’n deskundige en gepubliseerde skrywer van verskeie AAHS-boeke, het vroeër vanjaar in ’n verklaring gesê dit is moontlik dat die pandemie wel tot ’n drastiese toename in AAHS-gevalle, veral by volwassenes, kan lei, maar tot dusver bestaan geen bewyse dat dit wel gebeur nie.

Volgens ’n berig van HCP Live, ’n aanlyn kliniese nuusplatform vir medici, is die dekade wat op die pandemie van 1918 gevolg het, gekenmerk deur post-enkefalitis-gedragsversteuring, wat soortgelyk aan die hedendaagse AAHS is. AAHS-simptome het oënskynlik uit die niet onder ouer mense gemanifesteer nadat hulle van die griep herstel het.

Trouens, die pandemie van 1918 was moontlik die eerste keer dat navorsers ontdek het dat AAHS deur ’n virale infeksie opgedoen kan word, en nie net deur genetiese oorerwing nie.

AAHS kan dus oorerflik wees, of onder andere weens virale infeksie voorkom. ’n Hele lys van ander bydraende faktore by kinders bestaan.

Hoewel dit skaars is, kan dit ook voorkom as gevolg van ’n traumatiese breinbesering of ’n beroerte.

Hierdie beserings kan die werking van die prefrontale deel van die brein en sy netwerke in die agterkant van die brein, wat die “uitvoerende funksies” van die brein is, versteur.

Barkley glo nuwe kognitiewe afwykings gaan in die volgende tien jaar ná die Covid-19-pandemie onder pasiënte waargeneem word.

Pharma Dynamics het nou ook ’n nuwe app bekend gestel om ouers en versorgers van kinders met AAHS te help om hul toestand beter te bestuur.

Volgens ’n persverklaring van 13 September aan Weslander bestaan ’n groot behoefte aan hierdie nuwe toepassing, wat Tracto genoem word.

Dit is ontwikkel in samewerking met Augmental Technologies, en in samewerking met toonaangewende kliniese en opvoedkundige psigiaters, slaapspesialiste en arbeidsterapeute om ouers en gesondheidsorgpraktisyns te bemagtig.

Dit sal ouers, onderwysers en professionele mense in die gesondheidsorgwêreld help om saam simptome en newe-effekte te monitor en ’n digitale geskiedenis van die kind se sorgreis en reaksie op verskillende stimuli by te hou. As AAHS ongediagnoseer is of nie behoorlik behandel word nie, word kinders gewoonlik as stout, misdadig, onopvoedbaar, lui, gebrekkig of selfs onbevoeg bestempel. Dit is van kritieke belang om ’n akkurate diagnose te doen. Tans het een uit elke 20 Suid-Afrikaanse kinders AAHS.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article