Gaffoor Ganief se hy wil ’n verskil as onafhanklike kandidaat in wyk 29 maak omdat hy deur die gemeenskap gelei wil word.


“My onafhanklikheid maak dat ek my gemeenskap beter kan dien.”

Só meen Gaffoor Ganief wat as onafhanklike kandidaat in wyk 29 in die komende plaaslike regering verkiesing staan.

Die bekende motorwerktuigkundige vertel dat hy reeds sedert 1979 passievol is om die gemeenskap te dien en het ook oor die jare reeds baie terug geploeg in die gemeenskap.

“Ek weet ek kan my gemeenskap beter dien as ek onafhanklik staan in die verkiesing, omdat kandidate wat politieke partye verteenwoordig net beloftes maak soos die party dit voorskryf.

“Ek wil deur die gemeenskap gelei word en dit het my besluit om as onafhanklike kandidaat te staan baie makliker gemaak,” vertel Ganief.

Volgens Ganief word raadslede tans voorgeskryf wat om met hul wyktoelae te maak en kan daarom nie fokus op wat die gemeenskap regtig wil hê. “Ek wil ’n mandaat van die gemeenskap kry oor wat die behoeftes is.”

Die passievolle gemeenskapsleier erken hy het reeds verskeie partye ondersteun, maar die feit dat raadslede eers die mandaat van hul party moet uitvoer beteken mense kry nie eerstehandse behandeling nie, meen hy.

Ganief vertel dit is vir hom belangrik om die moraal, waardigheid en onafhanklikheid van inwoners te herstel daarom het hy besluit om as ’n onafhanklike kandidaat te staan.

“Ek wil my gemeenskap verenig deur spoedige dienslewering, behuising en misdaadbekamping in ons gemeenskap. Dit is ook belangrik dat ons moet fokus om geloof terug te bring na die skole en werksgeleenthede vir ons werkloses,” sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article