“Ek hoop nie dis net ’n verkiesingsbelofte nie.”
Só sê die 70-jarige Katrina Sambaba, of Antie Toelie, soos sy alom in Mamre bekend is.
President Cyril Ramaphosa het Donderdag Antie Toelie se eenvertrekwoning besoek en haar belowe dat hy ’n splinternuwe huis vir haar gaan laat bou.
“Ek woon reeds 40 jaar in dié eenvertrekhuis met ’n buitetoilet en ’n plaathokkie as kombuis. My vervalle kombuis het ook reeds 40 winters agter die rug en staan steeds,” vertel sy trots. Sy sê in die wintermaande is dinge baie moeilik omdat die kombuis dan oorstroom word. “Ek moet ook baie nagte in die reën uitgaan om die buitetoilet te gebruik, en my gesondheid is nie van die beste nie.”
Volgens Antie Toelie is sy reeds vroeër vanjaar deur Fiona Abrahams, die ANC- proporsionele raadslid, ingelig dat ’n proses begin is om haar omstandighede te verbeter.
“Ek was baie bly toe ek verlede maand by Fiona hoor ’n nuwe huis gaan vir my gebou word.”
Volgens Abrahams is sy reeds sedert verlede jaar besig met inwoners van Mamre wat ’n erf besit, maar nie ’n ordentlike huis het nie, om huise op hul erwe te laat bou.
“Ek het persoonlik met elke inwoner kontak gemaak en die proses begin. Ons het reeds van die inwoners se subsidie-aansoeke ingehandig en twee is reeds goedgekeur,” vertel Abrahams opgewonde.
Volgens Abrahams het sy die projek onder die Pella-projek uitgevoer en die huise sal deur dieselfde kontrakteur wat die Pella-behuising voltooi het, gebou word aangesien ’n nuwe projek baie lank sal neem.





