President Cyril Ramaphosa en Fiona Abrahams, die ANC-wyksraadslidkandidaat vir wyk 29, in Mamre tydens sy besoek aan die dorp verlede Donderdag (21 Oktober). Ramaphosa het inwoners belowe dat hy sal terugkom. Foto: Murphy Roberts


Die munisipale verkiesing op 1 November is nou in volle swang en politieke partye bring nou hul swaargewigte na die gemeenskap.

President Cyril Ramaphosa het Atlantis en Mamre Donderdag 21 Oktober besoek. Ramaphosa het saam met die plaaslike ANC-kandidaat Fiona Abrahams by verskeie huise in Mamre aangedoen en inwoners daarna in Afrikaans toegespreek.

“Ek is baie bly om hier te wees om te sien wat jul omstandighede is. Ek weet dat hier baie probleme is en ek sien die DA werk nie vir julle nie, en op 1 November moet julle vir Fiona stem,” het die president inwoners aangemoedig.

“Nie net is kameraad Fiona die beste kandidaat nie, maar sy werk baie hard om mense se omstandighede te verbeter en is ook baie slim, en sy is ook baie mooi,” het Ramaphosa in Afrikaans geterg. Ramaphosa het ook inwoners belowe dat hy gaan terugkom omdat verandering kom.

Ramaphosa het gesê nadat hy Antie Toelie se huis besoek, haar omstandighede gesien en na haar uitdagings geluister het, sal sy binnekort ’n splinternuwe huis kry.

“Fiona en haar span sal sorg dat Antie Toelie se huis binne die volgende twee maande gebou word, waarna nog inwoners wat in hokkies op hul erwe woon, ordentlike huise gaan kry.”

Die president het gesê inwoners het gesê hulle is moeg vir die DA.

Volgens Abrahams is die Mamre-behuisingsprojek (ongeveer 20 huise) iets waaraan sy lank reeds werk en dit is gewis nie net politieke beloftes nie, aangesien sy nie beloftes kan maak wat sy weet sy nie sal kan nakom nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article