Instagram-geselsies met ‘n tiener het moontlik ’n bekende onderwyser van Atlantis kniediep in die moeilikheid laat beland.
Die 34-jarige onderwyser het hom Maandag (22 November) in die teenwoordigheid van sy prokureur aan plaaslike polisie oorgegee na ‘n aanklag van seksuele gereedmaking teen hom geopen is.
Volgens kapt. FC van Wyk, provinsiale polisiewoordvoerder, is ’n klagte van seksuele gereedmaking is Vrydag (19 November) by die Atlantis-polisiekantoor aanhangig gemaak en is dié saak na die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (FCS) verwys.
Volgens ’n betroubare bron, het die onderwyser en ’n 14-jarige leerder op Instagram met mekaar geklets. Die bron na aan die ondersoek, vertel die onderwyser het die minderjarige glo gevra vir foto’s van haarself en het elke keer gesê, “I want to see more,” waarna die leerder meer ontbloot het.
Die getroude man sal weer 25 Februarie volgende jaar in die hof verskyn.
Weskus Nuus het na die Wes-Kaapse Onderwysersdepartment (WKOD) uitgereik vir kommentaar. By navraag het woordvoerder Bronagh Hammond gesê hoewel die department nie deur die polisie van die voorval verwittig is nie, het hulle verslae oor die inhegtenisneming ontvang. “Die gronde vir skorsing sal op die uitslag van ‘n ondersoek gebaseer word. Die WKOD sal voortgaan met die ondersoek,” het Hammond gesê. Sy het bevestig die onderwyser is tans nie op skool nie.
Volgens Janine Passenz van die Survivors Haven Foundation wat slagoffers van seksuele misdrywe ondersteun, sal mense nooit besef dat hier ’n pandemie binne ’n pandemie is nie. “Wie kan vertrou word as leiers wat veronderstel is om na ons kinders om te sien nie vertrou kan word nie?” het Passenz gevra.




