“Jy voel nie meer veilig in jou eie huis nie.”

Wat ’n familievergadering moes wees, het in ’n nagmerrie vir die Arendse-gesin van Uitbreiding 12 ontaard.

Volgens Hester Arendse was sy en haar familie Sondag 21 November besig om familiesake te finaliseer toe “alle hel losbars”. Volgens die omgekrapte Arendse het ’n jong man skielik by hul skuifdeur ingehardloop en dit weer vinnig toegetrek.

“Ons het uitgehardloop en ongeveer 15 jongens, almal met messe gewapen, wou met alle mag agter hom inkom,” vertel sy. ‘Ons het mooi gepraat, gepleit en gesoebat dat hulle moet gaan, maar hulle wou niks weet nie en het net geskree ‘laat daai jong uitkom!’ Ons het klein kinders in die huis en moes alles probeer om die skollies uit die huis te hou,” vertel sy.

Die mans het die huis uit woede met klippe bestook en die gesin se skuifdeur aan flarde gegooi voordat hulle skel-skel daar weg is.

“Ons moes die skuifdeur toeplak. Dit was glad nie ’n aangename affêre nie.”

Volgens Arendse het inwoners in die pad die man wat die familie se lewe in gevaar gestel het, “goed pak gegee”.

“Ons is nog aan die herstel nadat ’n onverklaarbare brand verlede maand die kinders se huis agter heeltemal verwoes en hulle alles verloor het.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article