Die moordenaars van Chanté de Bruyn (22) se borgaansoek is uitgestel tot Woensdag 15 Desember.Foto: Verskaf


Vier beskuldigdes wat daarvan aangekla word dat hulle Saterdag 30 Oktober op ’n groep mense losgebrand en Chanté de Bruyn (22) doodgeskiet het, het Woensdag 8 Desember weer in die Atlantis-hof verskyn.

Die vier, onder wie ’n minderjarige, word van moord en poging tot moord aangekla, en het om borgtog aansoek gedoen.

Die groep se borgaansoek is tot Woensdag 15 Desember uitgestel wanneer hulle sal hoor of tronkkos hierdie Kersfees hul voorland sal wees.

Die aanklagte spruit uit ’n voorval waar een van die mans glo vroeër die aand by die partytjie uitgesit is, wat vermoedelik die motief vir die voorval was. “Die jongspan het vertel hy is daar weg, maar het glo gesê ‘julle gaan nou wys raak’. Die man het saam met nog drie ander jongens teruggekom en net begin skiet,” vertel De Bruyn se ouma, Theodora van Heerden (64). Sy het ná die voorval met Weskus Nuus oor die laaste oomblikke dat sy haar kleinkind lewend gesien het, gepraat: “Sy was opgemaak vir haar vriendin se kuier in Robinvale. Hulle het lank aan die geleentheid beplan en het die Saterdagmiddag opgewonde gereed gemaak.”

Die jong ma sou volgende jaar haar studies voortsit.

Volgens kapt. Lisa Munro, ’n polisiewoordvoerder, het De Bruyn op die toneel aan haar wonde beswyk en twee ander mense is hospitaal toe geneem. Munro het bevestig twee verdagtes is ná die voorval aangekeer, terwyl die ander twee hulle later aan die polisie oorgegee het.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article