Met nóg 12 maande van inperking agter die rug en geen korttermynoplossing in sig om heeltemal van die Covid-19-pandemie ontslae te raak nie, was 2021 ’n uitdagende jaar vir vele.
Die pandemie het baie inwoners van geliefdes ontneem en baie het hul werk verloor – wat geweldige finansiële implikasies vir baie huishoudings inhou.
Ten spyte van dit alles is die meeste inwoners positief oor die toekoms – veral met die Atlantis- spesiale ekonomiese sone wat hopelik baie werksgeleenthede kan bring.
Die pandemie het ook genoop dat Weskus Nuus sy kantoor moes sluit, maar die koerant verskaf steeds die broodnodige inligting aan ons lojale lesers en ondersteuners.
Dit blyk die voortslepende pandemie het ook die deur vir bedrog by klein tot groot ondernemings wawyd oopgemaak en baie ondernemings en sakelui word tans ondersoek.
Misdadigers het egter nie dat die pandemie hul bedrywighede raak nie en baie bloed het die strate van die geliefde Atlantis gevul. Onskuldiges, skuldiges en kinders het geen spesiale behandeling van skieters ontvang nie.
Met die plaaslike verkiesing op 1 November het Atlantis ’n rekordgetal kandidate vir die twee wyke gehad, wat bewys die politieke speelveld is ook wawyd oop.
Politieke partye het wel die DA se wurggreep effe verslap, maar kiesers het steeds besluit om die DA in hul vertroue te neem.
Atlantis het ook baie om op trots te wees tydens dié tydperk. Yussi Maart, wat sy sokker in die strate van Atlantis begin speel het, het sy buiging vir Bafana Bafana tydens die Cosafa-beker vanjaar gemaak en is nou ’n gereelde gesig in die kwalifiserende wedstryde vir die Wêreldbeker.
Inwoners het ook gewys om met een stem te praat, kan baie vermag. Hulle het ’n petisie aan die departement van justisie oorhandig om twee landdroste te verwyder wat Atlantis “ ’n slegte naam gee”. Die departement het reeds een ontslaan en inwoners is dit eens dat die tweede ook sal volg.
Nog ’n groot nuusmaker vanjaar was Nora Grose, die voormalige subraad 1-voorsitter, wat tans in die hof verskyn op aanklagte van bedrog en geldwassery. ’n Bekende onderwyser het hom ook aan die polisie oorgegee nadat klagtes van seksuele voorbereiding teen hom aangemeld is.
Weskus Nuus se redakteur, Joline van der Merwe, het ook besluit om die koerant te groet.


