Mamre-rugbyklub se 7’s-rugbyspan het die laaste paar toernooie uitgeblink en nooit vir die groter spanne teruggestaan nie.Foto: Verskaf


Weens die min dinge wat op sportvelde kon gebeur het, het die Mamre-rugbyklub die geleenthede wat sy kant toe gekom het, ten volle benut en ook gewys dat hy in groter geselskap oor sewesrugby kan saampraat.

Die span het onlangs die tonge behoorlik los gehad met hul vertonings in kompetisies.

Die span, onder leiding van Edwill Okkers, het hul opmars begin deur die Bolandse Weskus-streektoernooi in Saldanha te wen. Die groen truie het vriend en vyand verras deur die toernooi onoorwonne af te sluit en het die gasheer, die Boland-rugbyklub-kampioen Saldanha in die eindronde geklop.

Die span het egter ’n week later in die Boland- Kampioen van Kampioene-toernooi in die kwarteindstryd vasgeval nadat hy in die groep van oorlewing geloot is, maar met verskeie groot name afgereken het. Die span het egter gewys om die Weskus-kampioen te wees, was geen gelukskoot nie en het verlede week weer in die Moorreesburg-toernooi uitgestaan.

Volgens Jaco Oppelt, bestuurder van die Mamre-7’s, het sy span die dag goed afgeskop en was onoorwonne tot voor die eindstryd. Oppelt sê die halfeindstryd teen die Boland- Kampioen van Kampioene-wenners, Hamlet, was ’n klipharde stryd en dat hy baie is trots op die karakter en veggees wat die spelers getoon het.

Hamlet het Mamre behoorlik tydens die Wellington-toernooi in hul kwarteindstrydwedstryd getroef, maar dit het nie die span van stryk gebring nie, spog Oppelt.

Mamre het in die uitklopronde eers met Roses van Wellington (24-7) afgereken voordat die span teen die Boland-kampioen koning gekraai het.

Die stryd, wat uit die staanspoor gelykop verloop het, was ná speeltyd 14 elk gelyk en “sudden death” in ekstra tyd moes die wenner bepaal.

Mamre het egter koelkop gebly en die kampioen onder druk gehou. Die span, wat sterk op die aanval was, het ’n strafskop voor die pale afgedwing en Edwill Okkers, die speler van die toernooi en die span se kaptein, het die wedstryd met dié strafskop beklink om ’n 17-14 oorwinning te verseker.

Mamre het egter in die eindronde teen Warriors van Paarl teleurgestel en kon nie op die dag se vroeër spel voortbou nie. Warriors het die wedstryd maklik 38-12 gewen.

Volgens Oppelt is daar geen verskoning nie, maar dat hulle slegs deur ’n beter span geklop is.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article