Die dae wat nuwelinge aan hul ma ruk en pluk om hulle nie op hul eerste dag by die skool te los nie, is verby.
Skoolhoofde sê dit is deesdae ’n plesier vir die beginners en slegs hier en daar stort een nog ’n verdwaalde traan.
Volgens Evan Martinus, voorsitter van die Atlantis-hoofdevereniging en hoof by Hermes Primêr, het die nuwe skooljaar besonders goed in Atlantis begin. Baie skole het reeds voor die amptelike begin ope dae gehou en nuwe leerders reeds ’n dag voor die amptelike opening by skole verwelkom.
“Dit het baie gehelp, en nuwe leerders het gou aan hul nuwe omstandighede gewoond geraak,” vertel hy.
“Wat egter nog baie pla is dat baie ouers vir die eerste skooldag wag om hul kinders te registreer, en dit ontwrig skole se programme. Ek hoop van harte dat ons hierdie jaar sal kan terugkeer na normale skoolure aangesien leerders baie misloop,” sê hy.
Volgens die voorsitter werk die skoftestelsel wat hulle tans toepas, baie beter vir sy skool aangesien leerders elke dag by die skool is. “Dit is dalk ’n uur of twee minder, maar die kinders is nie ledig by die huis of in die strate nie,” vertel Martinus.


