Die raadslede Allister Lightburn en Moosa Raise het met sportkodes vergader oor die toestande van sportvelde in Atlantis.Foto: Murphy Roberts


Sportklubs in Atlantis is woedend omdat hulle nie toegang tot sportgeriewe in die dorp het nie, en dié wat wel het, sê die toestand van die velde is pateties.

Die Atlantis-sokkervereniging het onlangs met twee wyksraadslede van die gebied oor die toestand van die velde vergader.

“Ons kon vir byna twee jaar weens die pandemie nie sport beoefen nie,” het Frank Ferzensie van Atlantis Sokker gesê. Die Stad het byna twee jaar gehad om die velde in stand te hou, maar dit is duidelik dat niks gebeur het nie, braak die sportmanne gal.

Volgens die raadslede Allister Lightburn en Moosa Raise sal hulle met amptenare vergader om die toestande van die velde te bespreek.

Volgens Patricia van der Ross, die burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapdienste en gesondheid in die Stad Kaapstad, het baie sportkodes toegang tot die geriewe. Volgens Van der Ross word gholfbane reeds langer as ’n jaar gebruik terwyl rugbyklubs ook reeds besig is met voorbereiding.

Volgens dié raadslid word krieketvelde ook al maande gebruik terwyl sokkerklubs ook met hul liga-verpligtinge begin het.

Dit gebeur egter nie in Atlantis nie, kla die sportklubs, en sê as hulle wel toegang kry, is die speelvelde onspeelbaar en die gras groei dik.

Volgens Van der Ross word voorkeur aan klubs gegee vir die sport wat in die seisoen beoefen word – krieket is ’n somersport en sokker ’n wintersport.

“Robinvale se krieketvelde is deel van die sokkervelde en daarom kry krieket voorkeur omdat dit nou speelseisoen is,” verduidelik Van der Ross.

Sportkodes moet verstaan geen sport sal voorkeurbehandeling kry nie en een sportkode wat die velde regdeur die jaar gebruik, kan die toestand van die oppervlak vererger, sluit sy af.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article