Die bloed het Woensdag (2 Februarie) behoorlik gevloei toe drie mense in afsonderlike voorvalle doodgeskiet is.
Volgens kapt. Liza Munro, ’n plaaslike polisiewoordvoerder, is die voorvalle almal bendeverwant en word die sake deur die teenbende-eenheid ondersoek.
Die eerste skietery was op die hoek van Fairfield- en Enchantresstraat in Saxon Sea, waar ’n man helderoordag om 14:00 – ten aanskoue van leerders van ’n nabye skool – doodgeskiet is.
Die skool het via sy sosiale media gesê berading is vir getraumatiseerde leerders beskikbaar.
Volgens Munro is Netherlands Pienaar (20) verskeie kere in die maag en been getref. Hy het met sy aankoms by die hospitaal aan sy skietwonde beswyk.
Sowat drie uur later is Kayla George (19) ook doodgeskiet. Die oorledene is in ’n oop stuk veld in Acaciastraat, Proteapark, geskiet. Die oorledene het op die toneel aan haar wonde beswyk, het Munro bevestig.
Die 29-jarige Calvin Keyser is kort voor middernag in Heathfield in ’n koeëlreën doodgeskiet. Tien koeëldoppies is op die toneel gevind en die oorledene is daar dood verklaar.
Munro sê ’n 17-jarige is aangekeer vir die moord in Fairfield terwyl twee verdagtes vir die moord in Acaciastraat aangekeer is. Klagtes van moord word deur die plaaslike polisie ondersoek. . ’n Vierde slagoffer is op die Silwerstroompad aangetref. Munro het bevestig dit was nie bendeverwant nie.




