Die span van die Survivors Haven-stigting help om slagoffers van geslagsgeweld, verkragting en enige ander vorm van mishandeling te ondersteun en van krag tot krag te gaan.
Die span het danksy die groot hart van ’n bekende sakeman nou hul eie kantoor in Mamre, met kamers vir berading. Volgens Janine Passenz van die stigting is die span laat verlede jaar ingelig “omdat julle sulke goeie werk in die gemeenskap doen, gaan die Shah-Zah School of Etiquette jul eie veilige haven word,” vertel sy opgewonde.
Volgens die sakeman Abdul Tajoodeen kon die goeie werk van die span nie misgekyk word nie, en daarom was dit ’n maklike besluit om te help.
Passenz sê slagoffers van verkragting kan nou in die privaatheid van hul beradingskamer behandel word, en as dinge volgens plan verloop, kry hulle binnekort ’n traumakamer ook.
Alles is egter nie net maanskyn en rose nie, vertel Passenz, “want die harde werk begin nou” om die plek in stand te hou, vertel sy.
Die Survivors Haven-stigting vra enigiemand of enige sakeonderneming wat skryfbehoeftes of kantoortoerusting kan skenk, om die stigting by Poietstraat 9 in Mamre besoek.


