Dié vragmotor het vermoedelik ’n slaggat getref waarna die bestuurder beheer verloor het voordat dit teen ’n aankomende bakkie gebots het. Foto: Murphy Roberts


Die bestuurder van ’n bakkie is Woensdag oggend (2 Februarie) dood toe dit teen ’n vragmotor gebots het.

Volgens kapt. Lisa Munro, ’n plaaslike polisiewoordvoerder, het die botsing omstreeks 09:45 in Neil Harestraat in die nywerheidsgebied gebeur.

Die bestuurder (35) van Vredenburg is op die toneel dood terwyl die bestuurder van die vragmotor ligte beserings opgedoen het. Munro sê die vragmotorbestuurder het vermoedelik beheer verloor toe die voertuig ’n gat in die pad getref en reg van voor teen die bakkie gebots het.

In ’n afsonderlike voorval het die passasiers van ’n bus wat Donderdag net na 05:00 van Mamre na Kaapstad onderweg was, ’n noue ontkoming gehad toe die bus en ’n bakkie op die N7 gebots het.

Volgens kapt. FC van Wyk, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, het ’n motor van agter in die bakkie vasgery, wat op sy beurt beheer verloor en in die aankomende baan beland het. Volgens van Wyk was die botsing, waarin die bakkiebestuurder en twee passasiers op slag dood is, onvermydelik. Nog twee passasiers in die bakkie is ernstig beseer en die res is lig beseer. ’n Saak van strafbare manslag word ondersoek.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article