Young Hearts het die eindronde van die Darling-rugby-7’s-toernooi gehaal, maar teen Hands and Hearts vasgeval. Foto: Murphy Roberts


Die Darling-rugby-7’s-toernooi het Saterdag sy 21ste verjaarsdag gevier en talle verrassings opgelewer.

Saldanha, die verdedigende kampioen, Belhar-kampioen van 2018 en 2019 en die gasheer, Darling, het reeds in die top-16-uitspeelronde uitgeval.

Saldanha, wat weer as gunsteling opgedaag het, is reeds vroeg die oggend geskud toe Young Hearts hom 17-7 geklop het.

Young Hearts het bewys sy oorwinning was nie ’n gelukskoot nie, maar het in die eindronde teen Hands and Hearts vasgeval.

Mamre en Hamlets het ook hul teenwoordigheid laat geld en die spanne het al hul groepwedstryde gewen.

Mamre het egter in die top-16 teen All Saints vasgeval terwyl Hamlets en Young Hearts op hul vroeë vertonings voortgebou het. Hamlets het die kampioen, Saldanha, se veldtog in sy top-16-kragmeting beëindig en die riller 14-12 gewen.

Saldanha het egter die wedstryd op ’n skinkbord aan die span van Mamre gegee toe hy in die doodsnikke onder die pale gaan druk het. Met die maklike doelskop wat wag en die tyd verstreke, het Saldanha egter in sy haas met die doelskop mislik. Young Hearts het egter die span van Velddrif ’n sewes-les geleer en die stryd maklik 40-5 gewen.

Young Hearts het All Saints in die kwarteindstryd 31-0 geklop terwyl Hamlets met Young Peoples afgereken het (29-17).

Young Hearts het ook sy een hand op die trofee geplaas toe die span van Ruben Abels die gedugte St. Georges 17-12 in die beker-halfeindstryd geklop het.

Hamlets het in die ander halfeindstryd Hands and Hearts gepak, maar die span van Gavin Passens het egter nie al die antwoorde op Hands and Hearts se vrae gehad nie en die aftog geblaas met die telling 7-19.

Die tafel was gedek vir ’n goeie eindstryd tussen Young Hearts en Hands and Hearts. Hands het egter eerste die hand opgesteek en daar gehou om die span van die grafkelder 26-5 te klop en as kampioen gekroon te word.

Mamre het die plaat-eindronde teen Saldanha 19-5 gewen terwyl Darling se naasbestes die bowl-kampioen is.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article