Lt.kol. Mario Thyse van Wellington is die nuwe Vispol-hoof by die Atlantis-polisie. Foto: Murphy Roberts


Behandel mense soos jy behandel wil word, meen lt.kol. Mario Thyse, Atlantis se nuwe Vispol-hoof by die Atlantis-polisie.

Dié Bolander het amptelik Dinsdag 1 Februarie hier begin en is vinnig besig om sy voete te vind, vertel hy opgewonde.

Die boorling van Wellington het sy polisieloopbaan in 1994 by die Moorreesburg-polisiekantoor begin en stelselmatig sy loopbaan danksy sy leiereienskappe op koers gekry.

Die nuwe hoof sê hy het in sy loopbaan reeds verskeie leiersposisies in die polisie beklee en ook reeds ’n draai in die speurdiens gemaak.

“Ek was onder andere skofleier, sektorleier, misdaadvoorkomingshoof en Vispol-bedryfshoof by verskillende stasies,” vertel hy.

Dié ervare beampte het ’n visie vir die dorp en hy glo daarin om deel van die aksie te wees.

“Ek is ’n voetsoldaat en glo om aan die voorpunt te lei. Ek weet ek kan niks alleen regkry nie, maar ek en my kollegas gaan hard probeer om die beeld van die polisie hier te verbeter.

“Baie van die klagtes in my kort tydjie hier sien ek gaan oor dienslewering, en dit is gewis iets wat ons senior bestuur gaan aanpak, want inwoners moet behandel word soos lede behandel wil word,” meen hy.

Die organisasie se gedragskode is ook belangrik, sê hy. Vir ’n veiliger gemeenskap moet die gemeenskap en die polisie hande vat en saam aan ’n veiliger Atlantis bou, sê dié voetsoldaat.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article