Kragvoorsiening, kragonderbrekings en kragplanne gaan ’n groot deel van huishoudings, fabrieke, skole, winkelsentrums en baie ander se kommernis in die volgende paar jaar wees. Die frustrasie en groter kostes rakende kragvoorsiening sal egter ’n vernuwende denkswyse by die huis moet aanhits.
’n Groter prentjie begin amper altyd met ’n kleiner prentjie.
Die Stad Kaapstad is besig om planne te maak om beurtkrag uit te skakel, maar dit sal nog ’n tydjie neem om ’n werklikheid te wees.
Intussen moet ons tuis planne maak wat voltydse krag betref, en dit moet goedkoper as huidige tariewe wees.
Ná die afgelope paar weke se intense beurtkrag is verbruikers feitlik deur die bank aan die soek na oplossings om minder afhanklik van die sukkelende Eskom te wees.
’n Mens se eerste versugting is om heeltemal van die kragnetwerk af weg te kom – ’n “Eskom se m*er”-benadering”.
Kleiner huishoudings bedink egter dikwels dié planne en doen dit stapsgewys om dit meer bekostigbaar te maak. Vir ’n huishouding met ’n kragrekening van bykans R1 000 per maand kan dit omtrent R120 000 kos vir ’n sonkragstelsel met batterye, wat hulle deels selfstandig van die kragnetwerk sal maak. Dit geld ook skole, fabrieke, winkelsentrums en ander kragverbruikers.
Met dié besparing kan die besteding in ’n sonkragstelsel – teen die tempo waarteen huidige kragtariewe styg – oor sowat agt jaar verhaal word.
Die stelsel het ’n produkwaarborg van bykans 15 jaar.
Dit is gewis ’n manier om die huidige stygende koste van krag oor die langtermyn te oorkom.
As dít te duur is (wat vir die meeste mense in Atlantis die geval is), beveel ons ’n omsetter met ’n litiumbattery aan. Die omsetter is die brug tussen Eskom-krag en batterykrag. Dit laai die battery en skakel dan tydens kragonderbrekings die batterykrag aan. Dit beteken die stelsel werk net as Eskom nie werk nie.
Dit sal tussen R40 000 en R50 000 vir sowat ses uur se bystandkrag kos.
Sonpanele kan later bygevoeg word.
Met ’n kleiner begroting kan jy vir sowat R9 000 ’n mobiele krageenheid aanskaf wat die televisiestel, ’n paar ligte en die WiFi vir twee tot drie uur aan die gang kan hou. Een opsie is ’n 1 kVA-trollie met ’n loodsuurbattery wat sowat drie jaar hou. Dit weeg tot 40 kg en kan moeilik wees om rond te skuif.
’n Kleiner, ligter 0,75 kVA-weergawe (13 kg) met ’n litiumbattery bied ’n leeftyd van sewe jaar.
As jy net jou WiFi aan die gang wil hou, is ’n ononderbroke kragtoevoer (UPS) voldoende.
Dit kos omtrent R1 000, maar gaan jou nie veel help as jou WiFi afhanklik is van ’n selfoontoring wat ook tydens beurtkrag af is nie. Vir mense wat veselverbindings gebruik, is dit egter ’n uitweg en jy kan ook jou selfoon laai.




