Raadslede Paul Swart (wyk 23), Moosa Raise (wyk 32), Allister Lightburn (wyk 29), voorsitter Nicky Rheeder, Wessie van der Westhizen (Subraad 1-bestuurder),Anastatia Davids (proporsionele raadslid), Ian Neilson (proporsionele raadslid),Nora Grose (proporsionele raadslid) en Sandile Booysen (proporsionele raadslid).Foto: Murphy Roberts


Dit is tyd om ons hande vuil te maak en inwoners in Subraad 1 te dien.

Só sê Nicky Rheeder, die nuutverkose voorsitter van subraad 1. Sy is Woensdag (16 Februarie) by die eerste subraadvergadering van die jaar verkies.

Rheeder het raadslede in haar inhuldigingsboodskap herinner hulle is deur gemeenskappe verkies en moet daarom dié inwoners dien.

“Ons gaan almal saam die moue oprol en ons verskillende gemeenskappe dien, want dit is wat van ons verwag word,” het sy gesê.

Dié voormalige Gautenger, wat reeds 22 jaar in die Kaap is, sê sy is passievol om mense te dien, en voor haar politieke loopbaan het sy meestal vir nie-winsgewende organisasies gewerk.

“Ek is tans ’n vrywilliger by ’n mediese nooddiens (gekwalifiseerde ambulans-assistent) en ook een wat op vermiste kinders fokus,” vertel sy.

Rheeder, wyksraadslid van wyk 107, dien reeds ses jaar in die stadsraad en sê sy is gereed vir die uitdagings wat subraad 1 bied.

“Ek het nog altyd ’n oopdeurbeleid gehad, en dit gaan gewis nie verander nie. Atlantis is uniek en ek gaan spoedig met die twee wyksraadslede oor hul uitdagings vergader sodat ons op dienslewering kan fokus, wat my baie na aan die hart lê.”

Rheeder sê sy het in haar vorige termyn op die portefeuljekomitee oor water en afval, water-veerkragtigheid, stedelike bestuur en die munisipale komitee oor openbare rekeninge gedien.

“Ek is in die termyn toegewys aan water en sanitasie en die munisipale komitee oor openbare rekeninge se portefeuljekomitee. Ek sien daarna uit om die gemeenskap te ontmoet en wil binnekort ’n openbare vergadering hou om my aan die gemeenskap voor te stel.

“Elke voorsitter bring sy of haar eie manier van doen en ek wil eers kyk hoe dinge vantevore gedoen is en van daar af kan ons veranderinge aanbring.

“Ek sien daarna uit om die gemeenskap van Atlantis te leer ken en om saam te werk om in die behoeftes van die gemeenskap te voorsien,” het Rheeder afgesluit.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article