Die “Grafkelder” op Pella het Saterdag uit sy nate gebars nadat die tuisspan, Young Hearts, sy eerste vriendskaplike tuiswedstryd in byna twee jaar daar gespeel het.
Darling se melkboere het besoek afgelê en ’n klipharde wedstryd het op die tuisspan gewag. Young Hearts het egter nie teleurgestel nie en sy vlugvoetige agterlyn het ondersteuners behoorlik met skitterende hardlooprugby, wat te veel vir die besoekers was, trakteer.
Young Hearts het die wedstryd 19-7 gewen nadat hy rustyd 5-0 voor was.
Die tuisspan het eerste bloed geruik met ’n onverdoelde drie en daarna het die spanne mekaar behoorlik beproef.
Pella het egter die meeste balbesit en gebiedsvoordeel geniet, maar desperate en goeie verdediging van die besoekers het hulle in die wedstryd gehou. Ruben Abels, die tuisspan se afrigter, moet krediet kry vir die verdedigingstegniek wat die besoekers gereeld op die agtervoet gehou en ook verskeie goeie bewegings van die besoekers gestuit het. Darling het in die eerste helfte gereeld in die tuisspan se doelgebied kamp opgeslaan, maar die tuisspan se verdedigings linie was rotsvas en die besoekers het gedwonge foute gemaak.
Die tweede helfte het teen ’n vinnige tempo begin met die tuisspan wat sy voorsprong met ’n verdoelde drie vergroot het. Baie hanteerfoute en swak dissipline van die besoekers het die tuisspan die een aanval na die ander van stapel laat stuur met nog ’n drie en doelskop om die telling 19-0 te maak.
Darling het egter nooit opgegee nie en moedig die een aanval na die ander gelei net om die bal in die tuisspan se doelgebied of met ’n strafskop te verloor. Pella se verdediging het die besoekers verhinder om nie vroeër die doellyn oor te steek nie, maar die damwal het laat in die tweede helfte gebreek toe die agtal ná ’n vyf-meter-strafskop vir ’n verdoelde drie oorgeval het.
Volgens Abels lê nog baie harde werk vir sy spelers voor, en met die liga wat vir eers tot 23 April uitgestel is, kan hy aandag gee aan hul lynstaanspel, wat hy sê “nog nie op standaard” is nie.
Ligawedstryde is vir eers uitgestel aangesien baie klubs se spelers nog nie teen die koronavirus ingeënt is nie.. Mamre het ook ’n goeie weg-oorwinning oor Wesbank behaal toe die groen truie met 17-5 baas was. Hamlets het na die Weskus gereis om Langebaan te pak. Die span van Gavin Passens het dié wedstryd 19-10 gewen.





