Plaaslike atlete het behoorlik hul merk op nasionale en provinsiale kompetisies gemaak en die dorp gewis trots gemaak.
Eerste was Daiman Titus, wat ’n silwer medalje in die 100 m vir seuns o.19 by die Suid-Afrikaanse skole-atletiekkampioenskap en ook ’n brons medalje in die 100m-aflos gewen het.
Nog ’n plaaslike skole-atleet, Cleo Marthinus, het ook ’n silwer medalje by die Suid-Afrikaanse laerskole-atletiekkampioenskap in die 800 m-wedloop vir meisies o.13 gewen.
Cleo het by die onlangse Wes-Kaapse distrik-atletiekbyeenkoms in die Dal Josafat-stadion die Wes-Kaapse rekord van 04:50,06 vir meisies o.13 in die 1 500 m aan flarde gehardloop en dit tot 04:48:00 verbeter. Sy het haar naaste teenstander met meer as 500 m geklop en later ook silwer in die 800 m gewen.
Dié kranige middelafstandatleet, wat deur Denzil van Wyk afgerig word, kan dalk net met die regte bestuur en afrigting gou in die voetspore van Caster Semenya volg.
Die Velocity-atletiekklub het ook by die WP-kampioenskap met verskillende medaljes groot sukses gehad.
Tereske George het as lid van die senior WP-uitnodigingspan goud in die 100 m-aflos vir vroue gewen.
Lee Shay Willemse het brons in die 10 000 m vir vroue gewen, terwyl die 18-jarige Melanie Joshua ook goud in die 100m vir vroue o.20 100 m verower het.
Joshua het ook die senior vroue-titel gewen en is aangewys as kaptein van die vroue Junior WP-A-span wat hierdie naweek aan die Nasionale klub-kampioenskap gaan deelneem.





