Goeie ondersoekwerk verg tyd.
Dit is onlangs weer bewys toe verdagtes in twee afsonderlike plaaslike misdade vir jare tronk toe gestuur is.
Harri Domingo (21) is ’n lang tronkstraf opgelê nadat hy Kenneth “Tokkie” Gordon, toe 40 jaar oud, Vrydag 22 Januarie 2021 met ’n byl probeer opkap het. Omstanders het gesê die oorledene is dalk met sy eie byl vermink nadat sy liggaam in die bosse by Dassenberg-rylaan gevind is. Domingo is 20 jaar direkte tronkstraf vir dié grudaad opgelê.
Moses Gordon, die oorledene se pa, het destyds aan Weskus Nuus gesê hy het sy seun ’n uur voordat sy liggaam ontdek is, gesien toe hy gesê het hy gaan gou ’n kliënt se bestelling vir hout klaarmaak.
Kenneth is met sy byl en saag daar weg.
Die verdagte het saam met Kenneth gestap, maar hy het nooit weer huis toe gekom nie, het sy pa gesê. Domingo het ná sy inhegtenisneming erken hy het die misdaad gepleeg en ook dat hy vroeër sy boetie (7) met ’n mes gesteek het.
Volgens kapt. Lisa Munro, plaaslike polisiewoordvoerder, het die ondersoekbeampte, AO Craig Hendricks, die saak baie deeglik ondersoek, wat tot die suksesvolle vonnisoplegging gelei het. Hendricks is tans die waarnemende bevelvoerder van die speurtak by die Melkbosstrand-polisiekantoor. Die tweede vonnis was die van Anthonio Booysen wat in die Kaapse hooggeregshof tot 68 jaar tronkstraf gevonnis is, waarvan hy effektief 30 jaar agter tralies sal wees.
Booysen is skuldig bevind aan twee aanklagte van moord, drie van poging tot moord en besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.
Hy en twee bendelede het op Nuwejaarsaand 2020 op ander bendelede in Flamingopark by die Dura-woonstelle losgebrand toe dwaalkoeëls ’n vrou en vyf-jarige noodlottig getref het.
Nog drie mense is in die voorval gewond.
Lt.Gen. Tembisile Patekele, provinsiale polisiekommissaris, het die vonnis verwelkom en die saak se ondersoekbeampte vir goeie en deeglike ondersoekwerk, wat tot die skuldigbevinding gelei het, geprys. Patekele sê hy hoop die naasbestaandes van die oorledenes kan nou vrede maak met wat gebeur het en hoop die vonnisoplegging dien as ’n afskrikmiddel vir ander.





