Die bestuur van die Atlantis-sokkervereniging is Keanen De Koker (assistentsekretaris), Frank Fancensie (sekretaris), Claude Brown (president), Nelson Dubuzana (kassier), Themba Mkentana (adjunkpresident) en Sebastian Paulse (skeidsregter-voorsitter).Foto: David Rossouw


Geen sokkerkompetisies is die afgelope twee jaar in Atlantis gespeel nie, maar dit verander wanneer die Atlantis- plaaslike sokkervereniging (APSV) Saterdag (30 April) sy ligakompetisies vir 2022 afskop.

Die APSV het sy jaarvergadering op 27 Maart in die Robinvale-sportkompleks gehou. ’n Voorstel deur Atlantis City, ondersteun deur Robinvale Spurs, dat die bestuur herverkies moet word omdat geen sokker in 2020-’21 gespeel is nie, is met ’n tweederdemeerderheid aanvaar.

Dit is ook die eerste keer in byna 15 jaar dat die APSV ’n volwaardige bestuur van sewe in die topposisies het. Hoewel geen sokker in 2020-’21 gespeel is nie, het die bestuur steeds voortgegaan, sokker bedryf en klubs van die nodige inligting tydens die Covid-19-pandemie voorsien.

“Ons is in hierdie tydperk deur die onsigbare vyand, Covid-19, gestop om sokker te bevorder en dit was hartseer om te aanskou hoe van ons jeugdiges op verkeerde plekke saam met verkeerde mense beland het. Dit het hartseer en verdriet by baie inwoners van Atlantis veroorsaak,” meen Claude Brown.

Sedert die vereniging 45 jaar gelede gestig is, is talle hoogte en laagtepunte ervaar, maar hulle het nooit probleme met geriewe in Atlantis gehad nie. Die laaste vier jaar was dit egter sigbaar.

Statistieke van die laaste 10 jaar toon Atlantis vaar beter as die groter LFA’s in SAFA. Met twee o.17-skolespelers, twee senior spelers (provinsiaal), twee PSL-spelers, twee streekspanne (SAB), een tweedeligaspeler (ABC; Motsepe), een Amajimbos (o.17) en ’n Bafana Bafana-speler in 2021, bewys dit sokker is goed in Atlantis ontwikkel.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article