Gillmore Solomons, skrumskakel van Young Hearts skeur die verdediging van Langebaan aan flarde wat tot Barry Adonis se drie gelei het. Foto: Murphy Roberts


Young Hearts het Langebaan Saterdag 17-13 op die grafkelder geklop in ’n wedstryd wat tot op die laaste minuut op ’n mespunt gebalanseer was.

Die tuisspan van Ruben Abels kon egter die oorwinning met rotsvaste verdediging verseker. Langebaan het eerste bloed geruik met ’n strafskop, waarna die tuisspan teruggeslaan het met ’n onverdoelde drie. Die wipplank-stryd het daarna van die een helfte na die ander gewissel en met nog ’n onverdoelde drie vir die tuisspan en ’n strafskop vir die besoekers het die spanne gaan water drink met die telling 10-6 in die tuisspan se guns.

Abels, wat baie werk het in die komende paar dae voordat sy span Vredenburg se Burg Boys op dié se tuisveld pak, se span kon nie die mas in die lynstane opkom nie. Met die een skewe ingooi na die ander in die lynstane het die span se dissipline hom ook in die steek gelaat en so die besoekers in die prentjie gehou.

Young Hearts het die besoekers gereeld laat gras vreet en die spelers het ook hul lywe op die spel geplaas terwyl die besoekers op drie geleenthede meters van die doellyn fase op fase afgedwing het – maar sonder sukses.

Abels, wat seker een van die opwindendste agterlyne in die kompetisie het, sal dalk met die een oog oop slaap ná die klomp hanteerfoute.

Die agterlyn was nooit bang om die bal lug te gee nie en het ook met die bal van sy eie doellyn tot in die besoekers se gebied gehardloop, net om die bal te verloor. Karakter, veggees, rotsvaste verdediging en die wil om te wen het egter die tuisspan se wa deur die drif getrek. Young Hearts het ook sy man deeglik in die vaste skrums gestaan en die besoekers krom geskrum. . Mamre het ook sy eerste oorwinning in die reeks behaal toe die groen truie op hul tuisveld die besoekers van Piketberg 21-13 geklop het. Mamre sal die naweek wil voortbou op sy vertoning en is gewis honger vir nog ’n sege wanneer hy na Langebaan reis. . Ander uitslae in die Boland-Grootuitdaagreeks vir die streek is St. Helena 15 t. Saldanha 9; Paternoster 18 t. Vredenburg 13; Hopefield 26 t. Velddrif 17. Hamlets moet nog sy eerste oorwinning in die WP- Super Liga A behaal en die span het Saterdag 24-92 teen Union-Milnerton op laasgenoemde se tuisveld vasgeval. Atlantis het teen Noordelikes op dié se tuisveld 23 elk gelykop in sy Westelike Provinsie- suidelike ligawedstryd gespeel.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article