Die drama by Atlantis-hof bou steeds op en dit het nou tyd geword dat die gemeenskap self moet besluit.
Só sê Janine Passenz van die Survivors Haven Foundation.
Weskus Nuus het onlangs berig dat ’n waarnemende senior hofbeampte, wat deur gemeenskaplede as ’n “sekspes” beskryf word, vroeër verwyder is (“Verkragting aangemeld” 31 Mei 2022).
Die man is egter ’n week later weer terug, maar is nou nie meer ’n waarnemende senior hofbeampte nie.
Weskus Nuus het vertroulik verneem gemoedere in die hofgebou kook behoorlik oor en gerugte doen die ronde niemand wil hom hier hê nie.
Passenz sê egter die adjunkminister van justisie sal aan inwoners moet kom verduidelik wat die man steeds hier doen.
Passenz sê wat dit verder ook ongemaklik maak, is die feit dat die departement van justisie een van die plaaslike landdroste na Malmesbury verskuif het “sodat hier plek gemaak kan word vir die man”.
Volgens ’n betroubare bron wil Malmesbury- en Kaapstad-hof glad nie die beampte by hul howe hê nie, omdat hy volgens die bron “’n verleentheid vir die regbank is”.
“Ek het ’n dringende brief aan die adjunkminister van justisie gestuur waarin ons vra dat dit dringend verduidelik moet word oor hoekom, as ander howe nie die man wil hê, hulle dink hy is geskik om hier te werk,” sê Passenz. “Ons het verlede jaar in ’n petisie gevra hulle moet hom verwyder of ons sal optree, so ek reken die tyd is nou reg daarvoor,” voeg sy by.
Volgens die brief wat aan die adjunkminister en ook aan Weskus Nuus gestuur is, vra die groep weer dat die minister binne sewe dae besoek moet aflê om aan die gemeenskap antwoorde te bied.
“Ons word daagliks gebel deur slagoffers van verkragting en ander seksuele oortredings vir bystand en ondersteuning, en ons vra hoe kan iemand wat van dieselfde oortredings beskuldig word, sulke sake aanhoor?” vra Passenz.
Intussen is ’n interne ondersoek deur die Landdrostekommissie van stapel gestuur nadat klagtes deur amptenare by die Malmesbury-hof aangemeld is dat die beampte hom aan seksuele oortredings skuldig gemaak het.
Die Atlantis-hof is reeds geruime tyd onder die vergrootglas.
Verskeie onlangse klagtes teen hofbeamptes sluit in ’n voormalige senior aanklaer, wat met pornografie betrap en skuldig bevind is.
Nog ander strafregtelike oortredings, wat by die Atlantis-hof ondersoek word, is ’n hofbeampte wat verhoor word weens die vermeende diefstal van “papgeld” wat verdwyn het (dié saak is tans in die hof), bandopnames wat verdwyn het asook ’n senior amptenaar wat weens die besit van dwelms aangekeer is.





