Hoewel baie mense weens die onlangse swaar reën in hul huise vasgekeer was en motoriste ompaaie moes gebruik, makeer die dorp se stormwaterstelsel niks.
Só verseker die subraad 1-voorsitter Nicky Rheeder.
Volgens Rheeder is dit nie net Atlantis wat deurloop nie, maar ook die groter Kaapse metro en selfs gegoede buurte. Sy verduidelik: “Dit is ongelukkig so dat die water baie voorwerpe na die afvoerpype laat stroom, en dan verstop die stelsel, wat oorstromings veroorsaak.”
Die drama volg nadat baie inwoners hul misnoeë op veral sosiale media ná die onlangse goeie reën uitgespreek het. Inwoners van Grovenorlaan in Saxonsea het behoorlik gal gebraak oor die modderige situasie in hul straat en baie kon nie hul huise bereik of verlaat nie.
Volgens Allister Lightburn, die wyk 29-raadslid, was dit ’n moeilike tyd vir almal aangesien klagtes deur inwoners ingestroom het. “Die Stad se stormwaterspan het ’n moeilike tydjie agter die rug, maar gelukkig kon die meeste klagtes dieselfde aand of die volgende dag uitgesorteer word,” sê Lightburn.
Die broodnodige reën het inwoners in veral informele nedersettings erg verontrief, maar volgens Lightburn is Atlantis baie gelukkig. In ander gebiede moes mense ontruim en die Stad se rampbestuur omtrent rondstaan.
Kritici van die Stad het ook die oeroue dreineringstelsel blameer, maar dit is ongelukkig ’n probleem wat reeds jare duur, verduidelik Lightburn. Hy sê inwoners moet ook opgevoed word om nie rommel oral te strooi nie, want “dit is ongelukkig die grootste oorsaak van die oorstromings”.
Rheeder het verduidelik in haar wyk, wyk 107, was oorstromings ook erg en het inwoners met ’n kano oor die weg gekom. Weskus Nuus het tydens die swaar reën gesien hoe werkers van die Stad en selfs kontrakteurs van die een gebied na die ander skarrel om strate en gebiede vir inwoners toeganklik te maak.
Volgens Lightburn kon hulle egter nie almal gelyk gelukkig hou nie, en veral Grovenorlaan in Saxonsea was ’n uitdaging.





