Met die koue weer op hande en kragonderbrekings wat hoogty vier, brand al meer en meer informele hokkies af.
Inwoners van Witsand kon verlede Woensdag net toekyk toe 15 gesinne se hokkies tot op die grond afbrand.
Volgens omstanders is dit onduidelik hoe en waar die brand ontstaan het en hulle wou nie bespiegel nie. Inwoners kon net red wat hulle kon gryp en almal het byna alles in die brand verloor.
Volgens kapt. Lisa Munro, ’n polisiewoordvoerder is geen ongevalle of beserings aangemeld nie en hulle wag nog op die brandverslag.
In nog twee afsonderlike voorvalle het ’n wendy-huis in Mamre tot op die grond afgebrand. Dié gesin het ook alles verloor. . ’n Somaliese winkel het Vrydagoggend in die sakekern afgebrand. Die winkel is verwoes en niks kon gered word nie. Omstanders sê die brand net na 02:00 die oggend uitgebreek minute nadat die krag weer aangegaan het. Brandweerlede op die toneel het bevestig dat niemand in die gebou was nie.


