Dr. Cassiem Joseph, wat in Dura-woonstelle grootgeword en sy skoolloopbaan aan Protea Park begin en by Proteus Sekondêr voltooi het, het onlangs ’n wetenskap-werksessie vir laerskoolonderwysers by Kerria Primêr aangebied.
Joseph het die sessie saam met studentevrywilligers en dr. Rehana Malgas-Enus van die Universiteit Stellenbosch (US) se chemiese departement in samewerking met SBA Chemie en SUNCOI aangebied.
Volgens Joseph het hy geweet hy gaan chemie studeer, maar toe hy in 2008 by die Universiteit Stellenbosch ingeskryf het, was hy nie heeltemal oortuig watter veld hy moes inslaan nie. Hy het eers die verskillende velde teen mekaar opgeweeg om te sien waarvan hy hou voordat hy finaal besluit het.
Joseph vertel hy het in 2010 na kernwetenskap oorgeskakel, maar die vereistes was hy moes ’n agtergrond met rekenaarwetenskap hê, wat hulle nie op skool gehad het nie. Hy het in 2011 chemie en polimeerwetenskap studeer, gevolg deur ’n honneursgraad, en het nog twee beurse ontvang. Hy het ’n meestersgraad in 2015 behaal met twee verdere beurse wat hom in staat gestel het om sy doktorale navorsingsgraad (PhD) in 2021 te verwerf.
“Op molekulêre vlak – as jy diep delf en verstaan wat jy in die lewe wil hê – kan jy dit bereik,” sê Joseph. “In my primêre fase is nie baie eksperimente gedoen nie, maar by Proteus was daar baie meer blootstelling vir eksperimente en ek het ’n passie daarvoor ontwikkel.”
Joseph, wat deesdae by die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) in Johannesburg werk, het spesiaal vir die sessie gereis om sy kennis saam met onderwysers van Atlantis en ander dorpe te kom deel.
Die werksessies sal nie net die onderwysers verder motiveer nie, maar ook die leerders aanspoor om beter punte in natuurwetenskap en biologie te verwerf, vertel hy.
Dié chemiese uitreikingsinisiatief-projek van die US, Suncoi en SBA Chemies was ’n eerste van sy soort in Atlantis aan agtergeblewe gemeenskappe. Die fokus is om algemene bevordering by onderwysers wat natuurwetenskap onderrig, te bevorder.
Onderwysers van Atlantis, Bellville-Suid, Bishop Lavis, Delft en Ravensmead van die Metro-Noord-onderwysdepartement, wat natuurwetenskap vanaf graad 4 tot 7 aanbied, het agt eksperiment- pakkette ter waarde van R2 000 ontvang.
Die onderwysers moet dieselfde eksperimente in hul klaskamers uitvoer. Die doel van hierdie chemiese werksessies is om kinders se belangstelling aan te wakker.
Die onderwysers, wat die agt uur lange sessie bygewoon het, het nie net hul kennis verbreed nie, maar ook ervaring opgedoen om hul leerders te ondersteun in hul strewe om chemie beter te verstaan.
Volgens dr. Rehana Malgas-Enus was dit dr. Joseph se vyfde projek, en hy is iemand op wie almal kan staatmaak.
Sy ma, Murieda Joseph, en sy susters, Latiefa en Mariam, sowel as die Atlantis-gemeenskap is baie trots op Joseph se prestasie.





