Keagan Johannes van Mamre wat verlede seisoen deel van die Blou Bulle se suksesvolle Curriebeker-veldtog was, gaan vir die volgende vier jaar Loftus Versfeld sy tuiste maak.
Die 22-jarige Johannes het in 2021 sy buiging in die senior span gemaak en het sy kontrak tot 2026 met die Curriebeker-kampioen verleng.
Die kranige skrumskakel het beslis die oog van die afrigter Jake White gevang en die direkteur van rugby op Loftus het nie geskroom om Johannes deel van sy langtermynplanne te maak nie.
Volgens White is Keagan ’n sleutelspeler in sy groep en is hy opgewonde dat Johannes sy kontrak verleng het.
“Keagan is beslis deel van ons langtermynplanne en op sy ouderdom het hy homself reeds bewys en met nog baie rugbyjare kan hy beslis nog baie bied,” vertel White opgewonde.
Saam met Johannes het die veteraanlosskakel Morné Steyn (2023) en Springbok-losvoorspeler Elrigh Louw (2027) ook hul kontrakte hernu.


