Werkers van Hisense in Atlantis is steeds uitgesluit.
Werkers het verlede week die strate binnegevaar toe die base van Hisense nie by die ooreenkoms van verkorte werksure gehou het nie, sê Alfredo Smith, plaaslike Vakbond Unie-organiseerder.
Volgens Alfredo het werkers Maandagoggend 11 Julie net gehoor hulle gaan op korttyd (short time). Volgens die organiseerder is dit teenstrydig met die ooreenkoms tussen die maatskappy en die vakbond.
Die ooreenkoms is dat die werkgewer vyf dae kennis moet gee aan werkers of die unie indien daar korttydgaan wees, wat nie gebeur het nie, vertel Alfredo.
Alfredo het bevestig daar is ’n getekende ooreenkoms tussen die twee partye wat die reëling bevestig. “Wat egter skokkend van die base is, is die feit dat voor die staking daar gesprekke oor short time was in die TV-afdeling en ons het gevra dat daai werkers in ander afdelings geplaas word.
“Ons was almal geskok toe ons Maandag (11 Julie) terugkeer na die onderhandelingstafel en die base het ’n ander deuntjie gesing,” vertel hy.
“Ons het vyf minute kennis gekry dat werkers short time gaan werk en werkers het besluit genoeg is genoeg.
“Werkgewers het die ooreenkoms verbreek en ons het gevra dat werkers vergoed word omdat hulle nie by die ooreenkoms gehou het nie. Die maatskappy het egter teruggekap met ’n uitsluit-kennisgewing.”
Hisense wil ook hê werkers moet ’n nuwe klousule in die ooreenkoms aanvaar dat korttyd op kort kennisgewing ingestel kan word. “Ons moet egter nou sterk staan aangesien werkers baie lanklaas vir ’n volle maand gewerk het en short time aan die orde van die dag is,” sê Alfredo.
Volgens Robin Murray van Hisense kom die korttyd nadat daar by hul verspreidingstoor in Johannesburg ingebreek is, met gevolg dat geen nuwe produkte van die fabriek vervoer kon word nie weens die misdaadtoneel.
Weens die onvoorsiene insident kon hulle nie by die ooreenkoms hou nie en vra dat die partye moet saamwerk om ’n vreedsame oplossing te kry, meen die maatskappy.





