“Die hof moet nie die bewyse ignoreer nie en moet eers met die slagoffers konsulteer voordat hulle op ’n vonnis besluit.”

Dit was die pleidooi van Janine Passenz, van die Survivors Haven Foundation, nadat ’n voormalige rugbyafrigter van Mamre onlangs in die hof verskyn het. Dié verdagte word onder meer aangekla van kinderpornografie en verkragting. Daar is nou sprake dat hy ’n pleitooreenkoms met die staat wil aangaan.

Die 46-jarige verdagte het homself as ’n dokter, fotograaf, model-agent, fiksheidsinstrukteur en selfs lesbiese vrou op sosiale media voorgedoen om glo so sy slagoffers te teiken.

Hy is in Maart 2020 aangekeer toe ’n slagoffer (16) alarm gemaak het.

Volgens Passenz voel die Survivors Haven-organisasie die minimum vonnis van lewenslange gevangenis oorweeg moet word aangesien die “skade aan die jong meisies vir altyd met hulle sal wees”.

Sy het ook gal gebraak oor die trauma wat slagoffers die afgelope twee jaar moes deurmaak en voel die vermeende verdagte het in dié tydperk die staat se tyd gemors.

Volgens Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, is die saak tot Dinsdag 23 Augustus vir moontlike pleitooreenkoms en vonnisoplegging uitgestel.

Die verdagte het vroeër aangevoer daar is geen bewyse van die aantygings nie en dat die klagtes teen hom slegs hoorsê getuienis was. Die staat het egter bewyse voorgehou by ’n hofverskyning op 2 Desember. Die verdagte is op 29 Julie 2021 weer aangekeer nadat nog ’n klaer na vore gekom het om ’n klagte van verkragting teen hom aan te meld.

Hy verskyn nou op vyf aanklagte van verkragting en verskeie van die besit van en vervaardiging van kinderpornografie.

Volgens Passenz is hulle bewus van nog slagoffers wat nie na vore wil kom nie.“Ek wens hulle wil oopmaak, want dit kan net voordelig wees aangesien professionele berading beskikbaar is.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article