Werkers van Hisense SA is ná vier weke buite weer terug nadat ’n nuwe ooreenkoms bereik is.Foto: Murphy Roberts


Werkers van Hisense in Atlantis is ná ’n maand terug in die fabriek nadat ’n nuwe ooreenkoms bereik is.

Volgens Alfredo Smith, die organiseerders van die vakbond, het werkers gisteroggend (Maandag 15 Augustus) teruggekeer nadat hul werkgewer ooreengekom het hulle gaan geen werktyd in die volgende twee maande inboet nie.

Volgens Smith gaan ’n komitee gestig word, wat uit vakbond-verteenwoordigers, bestuurslede en werkers bestaan, wat weekliks gaan vergader en veral die sogenaamde short time-kwessie gaan monitor.

Volgens die organiseerder is ook veranderinge aan die vorige ooreenkoms aangebring en kan die werkgewer nou in drie dae verkorte tyd aankondig in plaas van vyf dae.

Werkers gaan ook betaling ontvang vir die vyf dae wat nie kennis vir korter werktyd gegee is nie, asook ander dae, het hy bevestig. Dit word as ’n oorwinning vir die werkers beskou.

Volgens Smith het werkers Maandagoggend (11 Julie) gehoor hulle gaan op korter ure.

Volgens die vakbond was die besluit teenstrydig met ’n bestaande ooreenkoms tussen die maatskappy en die vakbond. Die ooreenkoms is dat die werkgewer vyf dae kennis aan die werkers of die unie moet gee, wat nie gebeur het nie.

Smith het bevestig dat ’n getekende ooreenkoms tussen die twee partye dit bevestig.

“Wat egter skokkend van die werkgewer is, is die feit dat voor die staking gesprekke oor korter werksure in die TV-afdeling gehou is en ons het gevra dat daardie werkers dan in ander afdelings geplaas word,” verduidelik hy.

“Ons was almal geskok toe ons Maandag (11 Julie) na die onderhandelingstafel terugkeer en die werkgewer ’n ander deuntjie gesing het. Ons het vyf minute kennis gekry dat werkers korter ure gaan werk, en hulle het besluit genoeg is genoeg.

“Die werkgewer het die ooreenkoms verbreek en ons het gevra dat werkers vergoed word omdat hulle nie by die ooreenkoms gehou het nie. Die maatskappy het egter teruggekap met ’n uitsluit-kennisgewing,” vertel hy.

Robin Murray van Hisense het Maandag (15 Augustus) bevestig die staking is verby nadat ’n nuwe ooreenkoms met die werkers bereik is en voeg by produksie is weer op dreef.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article