Inwoners van Witsand het Woensdag voor die plaaslike hof betoog dat die verdagte nie vrygelaat moet word nie. Foto: Murphy Roberts


Inwoners van Witsand het Woensdag (10 Augustus) by die Atlantis-hof betoog dat Somelezi Mhlambani (29) nie borgtog moet kry.

Die groep is woedend omdat die verdagte vermoedelik ’n vrou wreed in die aanloop tot Vrouedag (9 Augustus), wat die vorige dag gevier is, vermoor het. Die ontstoke inwoners sê die gebied gaan gebuk onder geslagsgeweld en vra die landdros moet nie borgtog toestaan nie.

Mhlambani word verdink van die moord op sy saamleef-vriendin Siphokasie Sisulu (37).

Die vermoede is dat hy haar doodgesteek en daarna hul hokkie in Witsand buite Atlantis aan die brand gesteek het.

Volgens die oorledene se broer, wat nie sy naam genoem wil hê nie, het hulle Vrydagaand (7 Augustus) almal saam lekker ontspan. Die twee het glo later die aand na hul hokkie voor op die broer se erf gegaan, vertel hy. “Ons het gehoor hulle stry, maar het besluit om nie in te meng nie omdat ons gedink het dit is seker nie ernstig nie. Minute later het ons gesien die hokkie brand,” het hy aan Weskus Nuus gesê.

“Ons het uitgehardloop en gesien die hokkie is van buite gesluit. Ons het gesukkel om die deur oop te kry en het my suster, wat reeds brandwonde opgedoen het, lêend gekry. Sy het erg gebloei en ons het haar uit die brandende hokkie gesleep. Ons het buite gesien sy is reeds dood en het verskeie steekwonde aan haar liggaam gehad,” vertel hy.

Die verdagte het te voet gevlug, maar is later aangekeer.

Volgens gemeenskapsleier Nolefefe Mbombo het hulle die verdagte, wat glo op pad na Malmesbury was, aangekeer en aan die polisie oorhandig.

Die familie weet steeds nie hoekom die twee stry gekry het nie en sê hulle is maar kort in ’n verhouding.

Die saak is uitgestel tot vandag (16 Augustus) vir ’n borgtogaansoek.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article