Die Atlantis-rugbyklub het Saterdag sy kanse vir promosie na WP se superliga C met swak dissipline op sy tuisveld in die niet laat verdwyn. Die tuisspan het Blakes van Stellenbosch in die twee spanne se top-9-kragmeting onthaal, wat die besoekers 25-15 gewen het.
Die besoekers het die tuisspan in die eerste 15 minute hard laat werk, maar Atlantis het egter eerste bloed geruik toe hy teen die verloop van spel ’n verdoelde drie gedruk het. Die tuisspan se stert was in die lug, maar swak dissipline het ingetree, wat Atlantis duur te staan gekom het. Met die eerste helfte baie gelyk het Atlantis egter toegelaat dat Blakes die wedstryd begin dikteer en die Stellenbossers het rustyd 13-10 voorgeloop.
Atlantis, wat nog nie die soet van ’n oorwinning in die top-9 kon proe nadat hy twee wedstryde gelykop gespeel en een nederlaag gely het nie, sal gewis in sy oorblywende wedstryde na sy spelers se dissipline moet kyk. Die tuisspan se kaptein, Darryll Flanagan, het ’n goeie wedstryd beleef, maar sy spel is met ’n geelkaart in die tweede helfte uitgeskakel, wat die besoekers op die voorvoet geplaas het. Al twee spanne het verskeie kanse verbrou en die tuisspan het op ’n tydstip sy neus vir ’n kort rukkie weer voor gekry.
Quintino October, heelagter van Atlantis, het met sy venynige aftrappe en spoed die tuisspan weer hoop gegee met ’n skitterende drie, wat nie verdoel is nie. Die besoekers het kort daarna ook met ’n onverdoelde drie teruggekap. Met slegs drie punte tussen die twee spanne het die besoekers egter vasgebyt en die tuisspan tot foute gedwing.
Blakes het die tuisspan se doppie met ’n verdoelde drie geklink, en met nog vier wedstryde oor, het Atlantis slegs ’n wiskundige kans om promosie te kry. .Young Hearts se kanse om die uitspeelronde van die Boland-Grootuitdaagbeker reeks te haal, het Saterdag in Velddrif soos mis voor die son verdwyn. Die span van Ruben Abels het verrassend 46-52 teen die tuisspan vasgeval. Mamre het ook moedig teen die Boland-kampioen, Saldanha, probeer, maar 23-36 vasgeval.
Ander uitslae is: St. Helena 53-17 Piketberg; Vredenburg 37-21 Langebaan; en Paternoster 19-12 Hopefield. . Die naweek se wedstrydbepalings is as volg: Mamre speel teen Velddrif, Young Hearts reis na Hopefield, Langebaan pak Saldanha, Piketberg sê Vredenburg die stryd aan en St. Helena pak Paternoster.


