Hy was die vader van duisende; oud en jonk. Abdul Tajoodien, of Oom T, soos hy in volksmond bekend gestaan het, se skielike dood Dinsdag 23 Augustus laat ’n groot leemte – nie net in Atlantis nie, maar reg oor die provinsie.
Oom T, wat vir byna dertig jaar by verskillende projekte betrokke was, se liefde en passie vir kinders het hom al tot in Robertson gelei, waar hy skoolskoene en sokkies aan minderbevoorregte kinders oorhandig het.
Sy skoolskoene-projek het jare gelede met 20 paar skoene begin en staan vandag reeds op 500 paar skoolskoene en sokkies, wat jaarliks aan minderbevoorregte kinders oorhanding word. Dié uitgesproke mense-mens was nie net geliefd onder plaaslike inwoners nie, maar tot op die hoogste vlak het leiers met respek van dié ikoniese leier gepraat.
Hy het ook nooit geskroom om ministers en polisiekommissarisse te vertel wat hy van hulle dink nie – sonder om vyande te maak. Misdaadvoorkoming was een van sy grootste passies, en buurtwagte kan daarvan getuig.
Oom T was ten tye van sy dood die voorsitter van die Atlantis-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) asook die Milnerton-kluster-GPF, en het voorheen op die provinsiale bestuur van die GPF gedien. Inwoners van Mamre, Atlantis en omliggende gebiede het met skok en ongeloof na sy woning gestaar en baie kon steeds nie glo die man met die groot hart is nie meer daar nie.
“My pa se legacy gaan gewis voortleef,” het Muraadt Tajoodien, sy seun, gesê.
“Ons gaan sy projekte voltooi en niks gaan verander nie. Dit is wat my pa wou hê, so organisasies kan steeds op ons staatmaak,” het Muraadt, wat reeds in gesprek met sy pa se kontakte was, verseker.


