Die Witsand-duine is ’n prettige trekpleister vir toeriste sowel as plaaslike inwoners. Foto: Yaël Malgas/Weskus Nuus-argief


September is Toerismemaand asook Erfenismaand, en die maand is met groot feestelikhede begin.

As deel van die amptelike begin van Toerismemaand was Lindiwe Sisulu, minister van toerisme, Sondag (4 September) in die Weskus.

Sisulu, Bossie Strydom (burgemeester van die Weskus-distriksmunisipaliteit) en talle ander hooggeplaastes het !Khwa ttu op die R27-pad dié Sondag besoek.

In haar toespraak het sy die belangrikheid van toerisme as ’n ekonomiese dryfveer beklemtoon.

“Ons moedig Suid-Afrikaners aan om binnelands te reis om ’n beter begrip te kry van die bekostigbare, opwindende en wêreldklas-besienswaardighede wat op hul eie drumpel beskikbaar is.

Dit dien ook as ’n geleentheid om binnelandse toerisme te bevorder en ’n kultuur van reis onder Suid-Afrikaners te skep,” het Sisulu by die geleentheid gesê.

Die tema van vanjaar se Wêreldtoerismedag is “Rethinking Tourism”.

Sisulu meen hierdie tema is gepas in die lig van die sektor se herstel ná die impak van die Covid-19-pandemie.

Plaaslik is baie in en om Atlantis te doen en te sien:. Silwerstroomstrand is op die Weskuspad (R27) geleë. Dit is vernoem na ’n “silwer stroom” noord van die oord, wat uit ’n fontein aan die rand van die Atlantis-duineveld ontstaan. Silwerstroomstrand is ’n blouvlag-strand, wat beteken dit het goeie watergehalte. Dit kan dalk nog ’n bietjie te koud wees om te gaan swem, maar ’n besoek aan Silwerstroom beteken ook braai, piekniek hou en ’n gebaljaar in die getypoel.. Die Witzand-akwifeer-natuurreservaat is gestig om die Atlantis-akwifeer, die dorpe Mamre en Pella se hoof-waterborn, te beskerm. Saam vorm die Silwerstroomstrand-bewaringsgebied en die Atlantis-duineveld die Witzand-bewaringsgebied.

Die spesifieke plantegroei wat hier voorkom, is deel van Atlantis-San-fynbos asook die Kaapse Vlakte-duin-strandveld. Die wêreldwye bedreigde swartkruid, die rooikat, die steenbok en die Kaapse grysbok is net van die diere wat in die reservaat aangetref kan word.

Een van die grootste trekpleisters van die gebied is die Witzand-duine, waar veral 4×4-opleiding of sandplankry plaasvind. . Mamre is in die laat 1600’s deur die Kaapse goewerneur, Simon van der Stel, as ’n militêre en veepos ingerig om setlaars en hul vee teen die plaaslike Khoisan te beskerm. Dit was later – tot aan die einde van die 1700’s – ’n veeplaas vir die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie.

Daarna, in 1808, het Kohrhammer en Schmitt, twee Morawiërs van Duitsland, dit in ’n sendingstasie omgeskep. Hierna is ’n kerk, skool en watermeule gestig, wat vandag nog staan.

Die dorpie het oor die jare talle internasionale besoekers verwelkom, soos die produksiespan van die Britse reeks Call the Midwife, wat hier verfilm is.

Volgens Wesgro se toerisme-oorsig, wat in Julie uitgereik is, het die Wes-Kaap die vyfde hoogste jaar-tot-jaar-groeikoers in Julie 2022 aangeteken met trekpleisters soos Robbeneiland, die Kango-grotte, Tafelberg Nasionale Park, Boulders, Viljoensdrift-riviervaarte en die Tafelberg-sweefspoor.

Die res van die provinsie se toerisme trekpleisters staan egter nie terug vir die meer bekende attraksies nie

By die bekendstellings-geleentheid was dit nie net die Khoisan-erfenis wat ten toon gestel is nie.

Sisulu het Suid-Afrikaners aangemoedig om hul ryk erfenis te vier deur plaaslike toeristetrek­pleisters in hul streek vandeesmaand nog te besoek.

“Kom ons herleef ’n gees van avontuur en begin die drome wat ons almal het, uitleef – jy sal iets wonderliks ??ontdek; dit kan ek waarborg!” het sy gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article