Twee gr. 6-leerders by Pella Primêr is onlangs in die Westelike Provinsie se o.12-ontwikkelingspan opgeneem.
Taylon Rudolph en Jameel Alexander sal van Donderdag (29 September) tot Saterdag (1 Oktober) in Riversdal vir die WP in die o.12-kusstreektoernooi uitdraf. Die WP, Boland, SWD, die OP, die Sharks, Grens en Vrystaat sal sake op die rugbyveld uitspook om die 2022-Kusstreekkampioen te kroon.
Dié twee het ’n tweedaagse oefenkamp by Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch voltooi, wat Saterdag (24 September) geëindig het.
Die rugbybloed vloei sterk in albei se are en al twee spelers se pa’s het hul rugbyloopbane op ’n jong ouderdom by die Young Hearts-rugbyklub begin en sedertdien diep spore getrap.
Taylon en Jameel se liefde vir rugby het begin toe hulle deur Bredfitt Swarts (Taylon se pa) en Vincent Alexander (Jameel se pa) na Young Hearts se oefeninge en rugbywedstryde geneem is nog voordat hulle skool toe is.
Hul pa’s was op hul speeldae gedugte teenstaanders in Boland-rugby.
Bredfitt is eers deur Hamlets op junior vlak gebrei voordat hy sy buiging as senior by die Young Hearts gemaak het.
By die strawwe proewe het Taylon sy merk op losskakel gemaak terwyl Jameel sy stempel as flank afgedruk het, wat die keurders genoeg beïndruk het om hulle in die span in te sluit.
Beide spelers het eers raakrugby begin speel voordat hul afrigter, Jerome Geduld, hulle in die o.9-skolespan ingespan het en hulle tot in Pelle Primêr se senior span gevorder het.
Claudine Arendse, die Boland- en WP- skolebreier, is baie opgewonde oor dié twee nuwelinge. “Dit is vir my belangrik om hierdie jong spelers te help om die beste in hul posisies te word en op elke vlak van die spel mededingend te wees. Ek is bly vir die geleentheid om Geduld se goeie werk verder te neem,” het Arendse gesê.
Arendse, wat haar merk as afrigter op skolevlak gemaak het, is een van Reuben Abels, die WP- o.13-Cravenweekspanafrigter, se produkte.
Die o.12-span wat, as voorbereiding vir die WP-o.13’s dien, bied Abels en sy span ’n goeie aanduiding watter spelers vir 2023 gereed sal wees om in die Cravenweek diens te doen.





